MOSSELBAAI NUUS - Koekie Butler (83) het onlangs haar mussiebelofte wat sy vroeër dié jaar gemaak het, nagekom.
Mossel Bay Advertiser het gedurende Mei oor Butler berig. Sy gebruik ’n rolstoel, ontvang verswaktesorg én is afhanklik van ’n suurstofmasjien, maar dít keer haar nie om terug te ploeg in die gemeenskap nie.
Sy het met behulp van haar dogter, Mariaan Scheepers, die Buddy Projek begin.
Hiervoor het Butler baadjies en hoedjies gehekel wat aan die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal oorhandig is. Die plan hiérna was mussies vir minderbevoorregte kinders.
“My asem en bene is dalk nie goed nie, maar my hande en liefde vir mense, veral kinders, is nog baie sterk.
“Ek het elke hoedjie met baie liefde gehekel, maar na die 94ste een was ek nie meer lus vir ’n hoedjie nie en het dit aan Solidariteit Helpende Hand oorhanding - hulle doen ongelooflike goeie werk in Mosselbaai en die omliggende omgewing,” sê Butler.
Nou hekel sy traumateddies vir Helpende Hand. “Dit is vir my baie spesiaal, omdat dit vir kinders en volwassenes wat deur traumatiese gebeurtenisse is, gegee word. Dit bied ’n troos en ’n gevoel van sekuriteit aan die persoon.”
Jeanette Meiring van Helpende Hand help haar tans en verskaf die brei- en hekelpatrone vir die teddies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’