MOSSELBAAI NUUS - Agt jaar (en genóég uitdagings) ná die bekendstelling van haar eerste boek, stel Yolandi Claassens hierdie week boek nommer twee vry.
Padlangs was die eerste in 2017, en heel gepas saam met dié se herdruk, volg Padkos in sy spore.
“Padkos is ’n kompilasie van 40 getuienisse vanuit my eie lewe. Dis die insae op my padlangse lewensroete saam met God, ’n lewensroete vol liefde, geloof en hoop - die geestelike padkos,” vertel Claassens.
Die persoon wat dit lees sal nie net haar geestelike lewensreis saam met haar stap nie, maar ook self geestelik gevoed word, sê sy. Padkos is in presies dieselfde formaat as Padlangs, net met 40 nuwe getuienisse wat oor die volgende deel van haar roete saam met God handel.
As jy 2017-Yolandi met 2025-Yolandi moet vergelyk, is daar beslis ’n groot verskil tussen die twee, reken sy.
“2017-Yolandi was eintlik ’n baie onervare skrywer met baie sterre in haar oë, opgewonde oor die nuwe, onbekende pad van die skrywerswêreld wat vir haar voorgelê het. En toe tuimel haar droom inmekaar met ’n uitgewer wat dit soos ’n stuk ou papier opfrommel en in die asblik weggooi.”
Gedurende dié tyd was daar ook inspirasie vir boek drie en vier, waarvan sy die titels so stilletjies by 2017- tot 2025-Yolandi se verhale inglip.
“Dis hier waar 2018-Yolandi voor ’n Kruispad te staan gekom het, en moes besluit wat sy gaan doen.
“Met God as haar Rigtingaanwyser het sy ’n ander afdraaipad gekies, een wat haar by ’n ander uitgewer gebring het. En toe gebeur Covid en die wêreld staan skielik stil! So ook die boekebedryf. En nog ’n teleurstelling toe die nuwe uitgewer nie weer sy voete kon vind nie.
“Was dit die einde van die reis? Glad nie. Na ’n Pitstop by God se voete, om haar geestelike batterye te herlaai, het sy haar skouers reguit getrek en gesê: ‘God sal besluit wanneer die eindvlag wapper, en Hy het nog nie daardie rondte aangekondig nie!’” sê sy.
Claassens het toe by Kersligmedia aangeklop, en vandag is Padlangs se herdruk gedoen en Padkos se bekendstelling is om die draai.
Tussen 2017 en 2025 het sy gegroei, nie net in haar skryfloopbaan nie, maar ook in haar menswees en persoonlike lewe.
Claassens sê haar 2025-self is 10 maal sterker en meer selfversekerd. “Sy is nie meer naïef of onervare nie. Sy gebruik dit wat veronderstel was om haar te breek om ander mense (en skrywers) te inspireer en te help. Om vir hulle te wys dat daar altyd hoop is vir diegene wat aanhou probeer.”
Padlangs, Padkos, Kruispad, Pitstop, Spore - al haar boeke is roete- of reisgetiteld, simbolies van haar reis saam met God, sê Claassens. Drie en vier moet nog geredigeer word, dan kan sy hulle ook instuur, en aan vyf skryf sy tans.
Padkos se bekendstelling is Saterdag, 25 Oktober, om 10:00 vir 10:30 by Reed Valley. Bywoning is gratis.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’