MOSSELBAAI NUUS - Van Hoërskool Punt se matriekleerders het vandag, 16 Oktober, hul jaarlikse tradisie voortgesit om in hul skooluniforms in die seewater by die Poort te spring - of altans, hulle wóú.
Dit is die graadtwaalfs se tradisie om op hierdie wyse hulle laaste skooldag te herdenk voordat hul finale matriekeksamens begin.
Maar as gevolg van onverwagte reën, wind en groot branders, sowel as die teenwoordigheid van ’n rob, is die dag by die Poort egter gekanselleer.
Maar die leerders het nie toegelaat dat dit hulle keer om nog steeds pret te hê nie.
Die leerders geniet die water by die vlak getypoel voor Delfino’s. Foto: Gabriélla Siebritz
Sommige van hulle het die partytjie na die vlak getypoel voor die Delfino’s-restaurant by Die Punt verskuif en daar vreesloos in die yskoue water gespring.
Een leerder het aan Mossel Bay Advertiser gesê dat die ervaring bevrydend was, ten spyte van die bittere koue.
Die res van die graad het toe by die Santos-strand ontmoet waar hulle meer gretig was om die see aan te durf.
Die finale matriekeksamens begin amptelik op Dinsdag 21 Oktober.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’