MOSSELBAAI NUUS - Die verhoor van vyf mans wat aangekla word van die moord op Heila Kilian op 16 April, 2018 duur voort in die rondgaande hooggeregshof op Mosselbaai.
Kilian (63) het die aand saam met haar suster Brenda Thomas, haar swaer David en Shaun Vorster, wat ook op die plaas waar die aanval plaasgevind het gewoon het, buite gebraai.
Sakhumzi Benya, Nkoshihethu Nocuza, Msomi Nikani, Monwabisi Maki en Xolusani Myoyi, wat van moord, roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie aangekla word, pleit onskuldig.
Vorster is as hoofgetuie vir die staat eerste geroep en het getuig dit was omstreeks 21:00 of 22:00 toe die vyf mans met bedekte gesigte uit die nag verskyn. Hy het opgemerk dat hulle gewapen was. Hy is oorrompel en met 'n vuurwapen teen die kop op die grond gedwing. Omdat sy gesig in die sand gedruk was, kon hy nie sien wat aangaan nie, maar hy het 'n skoot hoor afgaan, gevolg deur 'n geluid soos dié van iemand wat 'n diep asemteug uitblaas. Hy het ook gehoor hoe David geslaan word en skree van pyn. Eers toe een van die aanvallers Vorster se hande agter sy rug met 'n soort draad vasgebind het, kon hy sien wat aangaan.
Hy en David is herhaaldelik aangerand terwyl die mans geld en waardevolle goed soos onder meer 'n kamera gevra het. Die mans het met mekaar in 'n taal gepraat wat hy nie verstaan nie, maar hy en David is in Engels aangespreek.
Die marteling het sowat twee ure geduur voor hulle in David se bakkie vort is met 'n kluis, vuurwapens en 'n jagmesversameling.
Die uitkenningsparade waartydens een van die beskuldigdes geïdentifiseer is, is tydens 'n binneverhoor as aanvaarbaar verklaar. Staatsaanklaer, adv Christhénus van der Vijver het die afgelope week nog getuies na die getuie-bank geroep. Die Thomase se buurman het onder meer getuig. 'n Beseerde Vorster het ná die aanval by die buurman gaan hulp soek. Die buurman was dus die eerste buitestaander op die toneel. Die saak duur volgende week voort.
Regter Lister G Nuku het ook vergunning verleen dat die media foto's van die beskuldigdes in die hof mag neem. Hul regsverteenwoordigers het aanvanklik geweier omdat dit glo hul kliënte se regte sal benadeel.
Die vyf verdagtes in die hof.
Die verdagtes wou nie dat die media foto's van hulle neem nie maar Regter Nuku het die media se aansoek goedgekeur.
Staatsaanklaer, adv Christhénus van der Vijver gesels met een van die verdagtes se regsverteenwoordiger.
Die vyf mans word van onder meer die moord op Heila Kilian beskuldig.
Verwante artikels:
- Farm murder: Identity parade deemed admissible
- Judge to decide about photos in court
- Plaasmoord: Identiteitsparade vandag onder vergrootglas
- Murder at farm braai: 5 in court
- Farm murder: 5 to appear in high court
- Plaasaanval: Blye weersiens word tragedie
- Stilbaai-Plaasmoord: 4 verdagtes vas
- Opvolg: Vrou sterf in plaasaanval
- Plaasaanval: Gerugte van arrestasies onwaar
- Opvolg: Vrou sterf tydens plaasaanval
- Plaasaanval buite Stilbaai: 1 dood
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'