STILBAAI NUUS EN VIDEO - Die troosdiens van Heila Kilian (63) wat Maandag 16 April tydens 'n rooftog doodgeskiet is, vind Woensdag 25 April om 10:00 by die AGS Lofoord, Springs plaas.
Heila laat haar eggenoot Hein Kilian, oudbevelvoerder van die onluste-eenheid op Springs, drie seuns en 'n dogter - Eugene (45) wat in Australië woon, Anton (44), Marika van der Linde (43), Zane (37) en sewe kleinkinders agter. Hein het in 'n boodskap op Facebook Messenger aan Suid-Kaap Forum gesê dat hy sy hele polisieloopbaan geveg het om van die land 'n beter plek te maak.
"En nou moes my vrou op so gewelddadige en sinnelose manier sterf. Ons was sielsgenote en beste maatjies. Sy was my alles."
In 'n telefoniese onderhoud met Suid-Kaap Forum, het Marika genoem dat die polisie aanvanklik aan hulle gesê het dat hul ma in die kop geskiet is. "Die lykskouer het egter vir ons gesê dat die koeël deur haar long en hart is en dat sy onmiddellik dood was, wat vir ons 'n groot vertroosting is dat sy nie gely het nie."
Heila het by haar suster en swaer, Brenda en David Thomas op hul plaas gekuier ten tye van die voorval en sou die volgende dag na Springs terugkeer. "Tannie Brenda het langs haar gesit toe sy geskiet is en het ook vir ons gesê dat dit oombliklik verby was. Sy het langs my ma neergeval en gemaak of sy ook dood is."
Die drie stuks, asook Shaun Vorster wat in een van die twee woonstelle op die plaas bly, het die aand buite gebraai en na Christelike musiek geluister toe hulle oorval is.
"Shaun het links gedraai om die gaar vleis na binne te neem toe hy die mans, wat by die kant van die berg opgekom het, sien. Hulle het nader gehardloop en 'n skoot het afgegaan, wat my ma getref het. Hulle het vir David oorval, geslaan en heeltyd gesê hulle soek geld. Van hulle het Afrikaans gepraat en ander Engels. Hulle het vir Shaun ook teen sy kop geslaan en vasgemaak en gevra waar is die kluis."
Volgens Marika het Brenda slap op die grond bly lê en gebid. Een van die mans het in Engels geskree dat sy moet wakker word, haar aan haar voete gesleep en in die gesig geklap. Hy het aangehou om haar te klap en sy het haar oë oopgemaak.
"Tannie Brenda het hom gevra om in haar oë te kyk en vir hom gesê dat sy hom nie vrees nie, dat sy net vir God vrees en het 'n Christelike liedjie 'God will make a way' begin sing. Dit was asof hy sy greep op haar verslap het en sy het aangehou sing."
Kyk 'n video hieronder wat net voor die skietvoorval geneem is.
Lees die volledige artikel op ons susterskoerant, Suid-Kaap Forum.
Lees vorige artikels:
- Stilbaai-Plaasmoord: 4 verdagtes vas
- Opvolg: Vrou sterf in plaasaanval
- Plaasaanval: Gerugte van arrestasies onwaar
- Opvolg: Vrou sterf tydens plaasaanval
- Plaasaanval buite Stilbaai: 1 dood
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'