BLOG - Dalene Matthee het ‘n skat agterlaat. Nie net het sy die misterie van die Knysnabos in ons ore kom fluister nie, maar uitdrukkings deel van die volksmond kom maak. Soos vee dit dood.
In Kringe in ‘n bos, verduidelik Saul vir sy geliefde Kate dat dít beteken om die skandes, sondes en onreg van die verlede te vergeet. Want wanneer iets mos doodgevee is, bestaan dit immers glad nie meer nie.
Toe die lente verlede week opdaag, is dit getrou aan die verwagting. Die dag in die jaar met goorste weer denkbaar. Daarmee saam ontvang ek boonop die treurigste nuus. My ou skryfpêl met wie ek skuinskoek gebreek het in Annelie Botes se voorhuis daar in die Baai, is die vorige dag skielik aan sy hart oorlede. (Net voorverlede week skryf ek nog oor hom in Grendelgedagtes.)
Met ‘n gewigtige gemoed sit ek toe verlede week in ‘n gesprek oor hoe om meer besoekers in Mosselbaai te kry. Die kerksaal waar ons vergader is koud en ek trek die wolserp tot onder my keel. Met die tye wat tans so gebukkend is, is kuier, vakansie hou en rondrits beslis nie deel van my gedagtewêreld nie.
“Ons móét ‘n goeie seisoen hê,” sê een van die sprekers. Die stelling kom soos ‘n klap agter die kop as jy nie oplet in die wiskundeklas nie. Die seisoen is ‘n paar maande weg en nóg ‘n gatslag vir toerisme so kort op Covid-19 se hakke, sal die dorp beslis nie kan staan nie, merk nog iemand op. Die gesprek dobber hierdie kant en weer daardie kant toe. Toe hulle goed opgewerk is, stap almal skynbaar vuur en vlam die saal uit. Almal behalwe ek.
Die sonnetjie is mals. Vir ‘n Vrydag, is die strate maar stillerig. Soos ek na my motor toe stap is die woorde van Dis heerlike lente in my kop. Dis heerlike lente, die winter's verby;
weer nooi berg' en klowe vir jou en vir my. Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o. Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!
En ek sing my skoon in die nostalgie in. Hoe mis ek die wetters nie nou nie!
Ek praat nou van vakansiegangers. Dit help ook nie my gemoed toe ek die radio aanskakel en Annelie van Rooyen se Seemeeu speel op RSG nie. Ineens is ek terug in my pa se karamelkleurige Peugeot 504 waarin sy mix tape vir die lang pad uit die Vrystaat oor en oor speel. Seemeeu hy altyd gebêre vir as ons duskant Oudtshoorn links draai Mosselbaai toe, met nog net die Robinsonpas tussen ons en ons seevakansie.
Ek verlang toe sommer ook na die ou rooi koelsak wat tussen my en broer gestaan het met die padkos in. Getrou aan tradisie, was dit met frikadelle en hardgekookte eiers belaai. Gewoonlik sou ons stop en eet, maar my broer was in ‘n stadium veral hier op hoërskool aandhoudend honger en my pa weer te haastig om met sy tone in die sand te gaan vroetel.
Ja, ja ek het al ‘n keer of wat ná my verlossing uit die binneland en as inwoner van Mosselbaai, oor vakansiegangers gekla. Ja ek mag hulle dalk al per geleentheid Filistyne genoem het wat die dorp vir drie, onuitstaanbare weke binneval en beset. Miskien het ek al ‘n keer of twee geïrriteerd op my toeter gedruk as ‘n bakkie met ‘n kappie en ‘n MP-, FS-, GP-, NW-, L- of NC-nommerplaat teen ‘n slakkepas voor my poer-poer terwyl die bestuurder daarvan se voorarm by die venster uithang.
Maar ek het nou besluit – ek vee dit dood. Summier. Dis vergete soos Saul in tannie Dalene se boek verduidelik het. Kom asseblief met julle bakkies en boeretans en gepedikuurde Woollies-plakkie-voetjies en stringe kindertjies met Finding Nemo-handdoekponchos en visnetjies en wys-jou-vleis-broekies en vellies en petjies en giggelende tienermeisies met sarongs.
Kom asseblief tog Mosselbaai toe? Sodat óns ‘n goeie seisoen kan hê. Nie net vir die geld nie. Eintlik net omdat ons so smag daarna dat die dorp net weer ‘n slag normaal moet voel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'