MOSSELBAAI NUUS - Die jaarlikse Matriekbaai-fees het hierdie week weer duisende matrikulante van regoor die land na Mosselbaai gelok om hul finale skooljaar te vier.
Die stigter en organiseerder van die geleentheid, Lian Fourie, het Mossel Bay Advertiser meegedeel dat altesaam 3 500 kaartjies reeds vroeër vanjaar verkoop is - en die fees is uitverkoop.
Dit is die vierde jaar wat Mosselbaai dié gewilde fees sal huisves. Fourie sê die matrieks se amptelike registrasie vind vandag, 28 November, plaas.
Die megaklub, wat in die kelderparkering van die Langberg Mall gehou word, vind reeds vanaand plaas. Môre skop die eerste amptelike musiekvertoning by Diasstrand af.
Fourie sê die fees gaan vanjaar op alle vlakke groter aangebied word. “Ons is baie opgewonde en het groot nuwe borge soos Halewood bygekry.”
’n Beduidende toename in verkeer, strandaktiwiteite en naglewe-aktiwiteite word in Santos, Diaz en Hartenbos verwag.
Plaaslike sakeondernemings sien reeds die voordeel van die ekonomiese inspuiting.
Partytjiegangers by die tydelike megaklub-venue in Langeberg Mall se kelderparkering tydens verlede jaar se Matriekbaai. Foto: Linzetta Calitz
Gastehuise en vakansiewoonstelle is byna vol bespreek, en restaurante en vermaakplekke ervaar een van hul besigste weke van die jaar.
Hoewel die meerderheid matrikulante die fees verantwoordelik geniet, doen die owerhede ’n beroep op hierdie jongmense om hul veiligheid eerste te stel.
Die Matriekbaai-program duur tot volgende Saterdag, 6 Desember, met verskeie strandfeeste, musiekgeleenthede en dagaktiwiteite wat vir die besoekers beplan is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’