DANABAAI NUUS - Die 2024-raadsbesluit dat ’n gedeelte van erf 6393 in Danabaai, Moquini nié verkoop word nie, moes weens ’n bevel van die Hooggeregshof deur die raad heroorweeg word.
Gerrit Coetzee, namens die South African Global Conqueror Trust, wou ’n gedeelte van erf 6393 (+/- 4 800m²) by die munisipaliteit koop, maar die raad het daarteen besluit. (Lees meer oor die kopers en hul planne hier)
Ten spyte van die onlangse hofbevel het die raad hierdie week gesê hy hou by sy aanvanklike besluit.
Die voorgestelde vervreemding (verkoop) van hierdie erfgedeelte het aanvanklik in November 2023 voor die raad gedien - ’n hewige reaksie en teenkanting het uit verskeie oorde en weens verskeie redes daarmee saamgekom.
Ná afloop van ’n openbare deelnameproses (waartydens daar meestal besware ingedien is) het die voorgestelde vervreemding weer op 29 Februarie 2024 voor die raad gedien - gemoedere tussen raadslede het hoog geloop in dié vergadering, maar die verkoop vam die gedeelte van erf 6393 is met ’n eenparige besluit nié goedgekeur nie.
Gerrit en Andrea Coetzee, steeds namens die South African Global Conqueror Trust, het egter besluit om na die Hooggeregshof te gaan om hierdie besluit tersyde te laat stel.
Die saak is in Februarie vanjaar aangehoor, en die hof het op 15 September ’n hofbevel toegestaan wat onder meer die volgende ingesluit het:
• Die raadsbesluit op 29 Februarie 2024 is hersien en word tersyde gestel
• Die besluit word terugverwys na die munisipaliteit om te heroorweeg
• Die trust moet die relevante kommentaar en besware ontvang en redelike tyd kry om terugvoer daarop in te dien
• Die munisipaliteit moet die aansoeker se regskostes dek.
Die presiese regskostes is nog nie bekend nie en sal nog voor die raad dien.
Die heroorweging van die 2024-besluit het deelgevorm van die laaste raadvergadering vir die jaar wat op Donderdag 27 November plaasgevind het. Die vergaderingagenda het verskeie aanbevelings bevat vir raadslede om te oorweeg.
Die uiteinde van die raadsbesluit was dat die raad die terugvoer vanaf die aansoeker, asook die munisipaliteit se respons op dié terugvoer, behoorlik oorweeg het en in diepte bespreek het. Maar, die kommentaar en besware wat ontvang is word as wesenlik beskou, ongeag hierdie behoorlike oorweging.
Goedkeuring word dus nie gegee nie as gevolg van die beduidende aantal wesenlike besware en kommentare wat ontvang is.
Die grond sal in ’n onontwikkelde, natuurlike toestand bly, onderhewig aan heroorweging deur die raad in die toekoms.
Hoewel al die raadslede ten gunste van hierdie besluit was, het die ANC versoek dat addisionele aanbevelings by die item gevoeg word.
Dit sluit onder meer in dat ’n formele dissiplinêre ondersoek geloods word na die optrede van betrokke interne rolspelers in hierdie proses; ook dat ’n gedetaileerde uiteensetting van regskostes voor die raad dien, en dan dat die dié kostes by enige persoon by wie natalige optrede bevind word, verhaal word.
Die ACDP-raadslid, Eugene Kiewit, het tydens ’n spreekbeurt die toevoeging van hierdie aanbevelings ondersteun.
Met 18 stemme het die DA, VF Plus en Icosa die oorspronklike aanbevelings, soos in die agenda vervat, ondersteun. Die ANC, ACDP en PA het die toevoeging van addisionele aanbevelings met 6 stemme ondersteun.
Vorige artikels:
- Omstedenheid rondom vervreemding van Danabaai-erf
- VF Plus handig beswaarskrif oor Danabaai-erf in
- Danabaai-erf: Publieke deelname verhoed moontlik voorgestelde transaksie
- Voorgestelde Danabaai-transaksie gaan nie voort
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’