Update
MOSSELBAAI NUUS - Volgens die agenda vir die Beplanning en Ekonomiese Ontwikkeling Komitee se vergadering van vandag, Donderdag, 15 Februarie, is dit voorgestel dat die aansoek om die moontlike verkoop van 'n gedeelte van Erf 6393 (+/- 4 800m²) in Danabaai, nie goedgekeur word nie.
Dié inligting het gedurende die week aan die lig gekom ná sosiale media plasings/verklarings deur beide die ACDP en die VF Plus waarin die partye sê die verkoop van die erf is verhoed.
In reaksie op dié bekendmakings, meen die DA egter die indruk wat geskep is dat daar reeds 'n finale besluit oor die verhandeling van die erf geneem is, is misleidend.
Dít, weens die feit dat die komitee-fase se vergaderings nog nie eens plaasgevind het toe die plasings gemaak is nie.
By navraag het die Mosselbaai-munisipaliteit gesê ná publieke deelname sal dié item met betrekking tot die voorgestelde vervreemding van dié gedeelte erf, by 'n ope raadsvergadering (Donderdag, 29 Februarie) oorweeg word en 'n besluit sal dan geneem word.
"Enige stelling rakende Erf 6393, is dus voortydig hangend die uitkoms van voormelde raadsvergadering," sê die munisipliteit.
By navraag oor die verklaring se keuse van bewoording het adv Gert van Niekerk, onderleier van die VF Plus in die Wes-Kaap, gesê hulle beskou dit bloot as 'n proses wat sy gang moet gaan.
Volgens die verklaring verwelkom die VF Plus "die terugtrekking van die Mosselbaai-munisipaliteit se besluit om erf 6393 in Danabaai, te verkoop".
Kommentare en besware
Volgens die komitee-agenda is 33 kommentare en besware teen die aansoek ontvang. Die 33 sluit gemeenskapslede in en ook besware van die Fisherman's Village en Moquini Coastal Estate huiseienaarsverenigings asook 'n beswaarskrif van die VF Plus namens die gemeenskap.
Die VF Plus sê hy is steeds van mening dat 'n regverdige en deursigtige proses nie gevolg is met die aanvanklike besluit om die erf te verkoop nie; en noem ook dat nog 'n persoon na bewering in 2023 aansoek gedoen het om die erf aan te koop.
Dié persoon se besonderhede en beswaar teen die voorgestelde vervreemding van die erf word ook in die agenda aangedui.
Die DA Mosselbaai-kiesafdeling sê daarenteen hy het nog altyd munisipale prosesse en protokol gerespekteer.
Volgens die DA se verklaring is die raad in November 2023 gevra vir 'n besluit oor 'n aanbeveling deur die administrasie met betrekking tot die verkoop van die erf.
"Anders as wat opposisiepartye te kenne probeer gee, het die DA-koukus nie die item gebring om die erf te verkoop nie. Ingevolge deurwinterde raadsprosesse is dié item se aanbeveling deur die munisipale regsafdeling voorberei nadat 'n amptelike aanbod vir die vervreemding van Erf 6393 ontvang is."
Die raadslid vir die ACDP, Jeanette Gouws, sê sy vind die DA se "poging om hulself te bevry van die blaam vir hul intensie om die erf vir die belaglike prys van R980 000 te verkoop, lagwekkend".
"Die DA het die item laat slaag in komitee. Die DA het vir die item gestem toe dit in die raad kom, terwyl opposisie partye teen dit was."
Beide dié twee opposisie partye meen as hulle nie ingetree het en die gemeenskap ingelig het nie, die item sou geslaag het.
Die DA hou vol die korrekte prosesse is gevolg.
"Soos met sovele vorige omstrede voorstelle, onder meer die Ferris Wheel vir Die Punt, is die item ingedra juis sodat 'n openbare deelnameproses kon volg.
"Die DA Mosselbaai-koukus bedank beide inwoners en instansies vir hul deelname aan die openbare deelnameproses, 'n bewys dat die munisipale openbare deelnameproses in die doel daarvan geslaag het."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’