MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai Munisipaliteit se voorgestelde vervreemding van 'n gedeelte van erf 6393 in Moquini, Danabaai 3, het, weens verskeie redes, 'n hewige reaksie vanuit die gemeenskap ontlok.
Dié gedeelte (+/- 4 800m²) van die erf. sal vir R980 000 (BTW ingesl), verkoop word.
Rede tot kommer oor die verkoop van 'n gedeelte van dié erf, sluit in die feit dat die proses nie deur 'n tender hanteer is nie.
Nog behels die feite dat die kopers familie is van 'n raadslid, dat 'n deel van die potensiële ontwikkeling op die grond uit die raadsagenda nagelaat is, dat publieke grond in privaatbesit sal wees, en uiteindelik, dat die verkoop van dié grond nie werklik in die publiek se beste belang is nie.
Beide die ACDP en die VF Plus het hul kommer uitgespreek oor die verkoop van die eiendom.
Die Mossel Bay Advertiser het verskeie navrae gerig aan onder meer die munisipaliteit, die betrokke raadslid en die potensiële kopers van die grond.
Munisipaliteit
Die Mossel Bay Advertiser het die volgende lys navrae aan die aan die munisipaliteit gerig:
Daar is ‘n argument dat die verkoop van dié erf nie werklik in die publiek se belang is nie en dat die waardasie daarvan nie die werklike waarde weerspieël nie.
Is dit die munisipaliteit se mening dat die publiek bevoordeel sal word deur die vervreemding van net ‘n gedeelte van die erf?
Watter proses is gevolg met die waardasie?
By die raadsvergadering is die vraag geopper hoekom die koper nie eerder die inisiatief as ‘n skenking hanteer het nie, aangesien die doel daarvan is om dit in die publiek se belang te doen.
Hoekom is vervreemding van dié gedeelte van die erf nie deur ‘n tenderproses hanteer nie?
Sou die munisipaliteit nie die kans staan om meer vir die erf te kry as dit deur ‘n tender hanteer word nie?
Hoekom is dit bloot ‘n deel van die erf wat vervreem sal word en nie die hele erf nie?
As deel van die voorlegging deur die kopers, is daar genoem dat daar ook ‘n tydelike "caretaker condo" op die erf opgerig sal word. En dat die trustees van SA Global Conqueror Trust/kopers, Gerrit en Andrea Coetzee die opsigters sal wees in die geval.
Die agenda verwys egter net na "to be utilised for conservation and the erection of a changing room and toilet facilities for beach goers, hikers, fishermen and the public".
Waarom word die "condo" nie genoem nie?
Wat word bedoel met “conservation”? Is daar spesifieke planne in plek daarvoor?
Die feit dat die kopers ook familie is van raadslid Lodewyk Coetzee het heelwat vrae ontlok. Hy is die voorsitter van die Land Use and Planning Committee.
Is dit so dat die munisipaliteit druk ervaar het van drukgroepe om die dienslewering op Danabaai 3 vinniger te laat gebeur en ook dié publieke bate vir publieke doeleindes in te span?
- Indien wel, is dit iets wat die voorsitter van die Land Use and Planning Committee sou weet?
- Indien wel, is dit ‘n onderwerp wat al in die raad bespreek is?
- Indien wel, hoe sou ‘n potensiële koper te werk gaan om dié kennis in te win?
Kan die munisipaliteit meer inligting verskaf oor SA Global Conqueror Trust en vorige soortgelyke inisiatiewe?
Die munisipaliteit se kommentaar op die vrae was as volg:
"Tydens die raadsvergadering gehou op 30 November 2023, is ? aansoek oorweeg ten opsigte van die moontlike vervreemding van `n gedeelte van Erf 6393 geleë te Moquini aan South African Global Conqueror Trust ten einde die gedeelte grond te benut vir bewaringsdoeleindes en toegang tot die kus. Ná deeglike oorweging is in beginsel goedkeuring verleen onderhewig aan verskeie voorwaardes asook dat die voorgeskrewe publieke deelname proses gevolg moet word.
"Na afloop van die publieke deelname proses sal die item terug verwys word, tesame met die kommentaar soos ontvang vanaf die publiek, na die raad vir oorweging. Die openbare deelname proses word tans gevolg en geleentheid vir kommentaar en/of besware sluit op 24 Januarie 2024. Daar word versoek dat alle kommentare en/of besware op skrif gestel word vir oorweging deur die raad by die neem van ‘n finale besluit. Enige navrae in die verband kan gerig word aan Mnr. D Steyn of Me. S Jombile by 044 606 5000 of per e-pos aan admin@mosselbay.gov.za."
Raadslid
Raadslid Lodewyk Coetzee waarna verwys word in dié navrae sê: “Ek is familie en ek het niks met die besluit te doen nie en daarom het ek myself van die besluit in die raad verskoon.”
Raadslede is onderhewig aan 'n gedragskode.
Kopers
Gerrit en Andrea Coetzee is trustees van die South African Global Conqueror Trust en het op hul beurt op navrae reageer.
Kan julle as trustees konteks rondom die trust verskaf? Julle is betrokke by verskeie filantropiese projekte. Wat is van hierdie projekte?
Die Coetzees het as volg geantwoord:
Opsommenderwys die volgende:
Huise aan weduwees.
Huis aan 'n wees meisiekind.
'n Huis aan 'n behoeftige pensioenlose bejaarde.
Huis vir hawelose mense (wisselende groep mense). (Huis staan tans in geheel gestroop deur vandaliste. Meer as R1m se verlies daar.)
'n R1,9m plaas vir opleiding van jongmanne (nog in registrasie)
Kontant betalings aan behoeftige mense van tyd tot tyd.
R4,5m aan entiteite wat ons as welsynorganisasies gebruik.
R0,1m vir Lenor sending werk.
Beskou julle die aankoop van erf 6393 ook as ‘n filantropiese projek?
Erf 6393 is ook 'n gemeenskapsprojek. Maar ons wil nie 'n herhaling hê van erf 4/1042 waar alles gestroop is, en net die mure en dak nog staan nie. Verkryging van (publieke) grond, vir publieke gebruik, kan by geen standaard nie as filantropies beskou word nie.
Wat het julle laat besluit om hierdie projek aan te pak?
Ons is nie inwoners van Mosselbaai nie. Ons was daar met vakansie en het Danabaai besoek. 'n Agent het ons ook eiendomme gewys en erf 6393 het ter sprake gekom waarop die behoeftes van inwoners en strandgangers uitgewys is.
Op 'n ander geleentheid het ons van Danabaai 2 geloop na Danabaai 3. Daar aangekom het ons ablusie-geriewe benodig, maar niks gevind nie. Ons het besluit ons kan in daai behoefte voorsien en het die munisipaliteit genader en aangebied om die fasiliteite te bied teen aankoop van wat 'n parkeerterreingebied was, om die dienste daar te bied.
Hoe het julle bewus geword van die erf en die potensiaal vir die projek?
Ons was gedurende 2022 en 2023 op vakansie in Mosselbaai en na ons eie nood het ons navraag gedoen of ons betrokke kon raak. Dit dien genoem te word dat grond onder die benaming van 'n erf gaan. Graag lig ons uit dat hierdie 'n publieke parkeerarea is. 'n Parkeerterrein wat tans onder seesand verspoel is. Openbare parkeerterreine gaan meestal gepaard met ablusie-geriewe en die aanbieding van ablusie-geriewe op so 'n terrein is bloot 'n logiese voortvloeisel van die area se bestaansrede. Die potensiaal kom dus nie uit die trust nie, maar dit is die vindingrykheid van munisipale bestuurspanne wat deur die gemeenskap daargestel is om namens die gemeenskap op te tree.
Is daar iets wat die trust daaruit sal baat?
In ons ander projekte word die trust die eienaar van die trust-bate en word trust-geldbates verruil vir 'n vaste bate.
Dus word dié Trust nie bevoordeel deur een kontant bate te verruil vir 'n ander nie. Een bate word bloot vir 'n ander ingeboet.
In terme van erf 6393 is dit dieselfde. As die trust die eiendom gratis ontvang het, sou die trust daaruit voordeel kon trek, maar dan is dit nie filantropies nie.
Hier word 'n parkeerterrein met 'n geswore valuasie met publieke toegang en publieke geriewe aan die publiek verskaf met dienste wat andersins nie binnekort beskikbaar sal word sonder private inisiatiewe nie. Daar is bittermin ander entiteite wat seesand sal aanskaf wat orals waai, om toilette eksklusief vir die publiek daar te bied. Ek dink daar is so 'n geval in Stilbaai dalk ook. Dit is dus nie iets vanuit 'n ander wêreld nie.
As die eiendom as parkeerterrein in dekades nie verkoop of aangewend kon word nie, kan ons nie insien hoe kan dit 'n winsgewende bate wees. Publieke toilette het min kommersieële waarde - en verg dit filantropiese insette om iets daarvan te maak.
Voorts is die trust 'n filantropiese entiteit, en is die doel nie om iets daaruit te baat nie.
Die ACDP het in ‘n verklaring hul kommer uitgespreek oor die feit dat die proses nie deur 'n tender hanteer is nie en ook nie noodwendig in die publiek se belang is nie.
Dié party reken dat die publiek meer daaruit sou baat deur ‘n tenderproses, omdat die munisipaliteit op dié manier meer geld sou inwin vir die gedeelte van die erf.
Die ACDP se mening is gebalanseerd. Persoonlik het ons geen inset oor wat is die "meer geld" opsie of wat is die alternatiewe prosesse nie. Die munisipaliteit wil ablusie-geriewe vir die gemeenskap bied. Die publiek kry die ablusie-geriewe, sonder dat hulle toegang een jota ingeperk kan word op die parkeerarea. Verder word die gemeenskap befonds vir ander projekte uit 'n "erf" wat andersins geen kommersieële waarde het nie.
Ons ander maatskappye soos Limosa Investments het al 65 eiendomme van munisipale entiteite gekoop. Dit was aanbod-om-te-koop, waardasie-gedrewe transaksies. Hoekom 65 ander transaksies so werk, en een ander moet eerder op tender gaan, dra ons geen kennis van nie.
Dit het deurgeskemer dat ons die eerste instansie is wat in die bestaan van Mosselbaai vorendag gekom het met sodanige voorstel vir publieke fasiliteite in die area. Is daar dan gronde vir 'n tender waar daar tot op hede geen ander sodanige aanbod was nie? Ander grond as munisipale eiendomme op Mosselbaai is verkoop op aanvraag/aanbod terme, wat nie op tender uit is nie. Hoe is daar 'n ander vereiste hier te stel?
In wese, ons dink die vraag oor 'n tender is meer akademies as wat dit praktiese aanwending het.
Ons probeer egter hiermee waar ons ons hulp kan gee, maar die vraag oor 'n alternatiewe vervreemdingsmetode is nie binne ons vermoë om te kon antwoord nie.
‘n Vraag oor of die koper nie eerder die geld vir die fasiliteite genoem sou wou skenk nie (aangesien die doel publieke belang is), is ook in die bogenoemde raadsvergadering gevra.
Die trust het 'n vergadering gehad met die munisipaliteit waarin die munisipaliteit ons ook onder streng audisie geplaas het. Oor die trust se vermoëns en bekwaamheid. Die munisipaliteit het ons onder soortgelyke ondersoek geplaas en was dieselfde vrae gevra.
Hoewel ons nooit voorheen aan sulke onderhoude onderwerp was met die aankoop van die vorige 65 transaksies by ander munisipaliteite nie, het ek destyds gedink dat Mosselbaai-munisipaliteit nogal deeglik in hulle werk en prosesse was om die saak deeglik te ondersoek.
Ons filantropiese vermoë kan slegs lewend bly indien ons nie die gans slag wat die eier lê nie. Ons kan in een transaksie al ons geld aan iemand oordra, maar dan is die gans geslag.
Skenking van geld om die toilette te bou is beslis as 'n opsie aan ons voorgehou (omtrent R300 000). Die probleem wat ons het is dat die geriewe gediens moet word, wat 'n aanhoudende diens en uitgawe is. Dit plaas 'n las op die munisipaliteit om nadat die toilette gebou is, dit in stand te hou, wat alles geld kos. Die ander groot kopseer was die R10 000pm sekuriteitsuitgawe. As die toilette gevandaliseer word, word die gans wat die eier lê weer geslag, soos die huis hierbo na verwys. Ons kan die vandalisme keer en die beraamde R10 000pm sekuriteitskoste absorbeer deur die projek self te oorsien.
Die R980 000 vir die "voorreg" om toilette skoon te hou, gee die munisipaliteit bykans R1m se kapitaal vir ander projekte. Dit terwyl die toilette-diens steeds beskikbaar gestel is aan die gemeenskap, en namens die gemeenskap onderhou word. Die publiek behou alle voordeel uit die gebruik van die onbeperkte toegang oor die terrein. Die onbeperkte toegang verseker dat die publiek niks verloor nie maar die ablusie ryker word, en die gemeenskap vorder R1m in vir nog gemeenskapsprojekte. Dit is filantropie op verdere gemeenskapsprojekte. Dit is filantropie op filantropie soos ons dit sien.
Sou julle oorweeg om eerder hierdie roete (skenking) te volg?
Die skenking was oorweeg. Die trust wil nie goedsmoeds van kapitaal ontslae raak nie, om die gans aan die lewe te hou. Ons wil steeds in staat bly om gemeenskapswerk te doen. Quid pro quo is 'n model wat ons nastreef as die oorlewingsmodel.
Hoekom grond aankoop wat publiek is, bloot om dit publiek te hou?
As trustees het ons 'n verantwoording teenoor trust bates. Die verantwoordelike proses is om iets tasbaars in ruil vir die trust se filantropie te verseker. Hoewel die erf oop bly vir publieke toegang, is dit die verantwoordelike ding om te doen deur die munisipaliteit om die bate se doel en gebruik oop te hou vir die gemeenskap. Ander mense het dalk geen eng verbintenis met gemeenskapswerk nie, en klink dit na ons wat R1m in die drein afgooi. Ons as individue put genot uit dienslewering - al kom dit teen 'n premie. Die risiko en die premie bestuur ons deur die onkoste te kussing deur self-betrokkenheid.
Die familieverbintenis met raadslid Coetzee is ook genoem as ‘n bron van kommer.
Het die familieverbintenis enigsins bygedra tot die proses om inligting oor die erf te bekom en dus die proses van aankoop te begin?
Ek ken nie die volledige samestelling van die raad se raadslede nie, en ek weet nie wie almal daarop dien nie. As u verwys na Raadslid L.Coetzee, dan bevestig ek dat hy 'n neef is van my. Die ander trusteelid en die trust self het geen ander verbintenis met enige raadslid waarvan ons weet nie.
Dit is toevallig dat die een trustee 'n familielid by dié munisipaliteit het. Die 65 ander eiendomme het nie sulke verlangse familiebande betrokke gehad nie. Ons betreur die ophaling en innuendo.
Ons het baie respek vir eerw. L.Coetzee raadslid, vir die raad self, en vir die regsproses in sulke sake.
Ons as trust is self geregistreer op LexisNexis en het toegang tot LG kaarte en eiendom informasie. Ek weet nie of raadslid Coetzee oor meer inligting beskik as wat ons op ons webwerf het nie.
Die trust het raadslid Coetzee gevra of ons ablusie kan bou op 'n see erf, waarop sy antwoord was dat alle strukture moet deur die munisipaliteit goedgekeur word.
Met verwysing na erf 6393 het hy gesê daar is 'n voorgestelde boulyn, en het hy ons verwys na omgewingsake konsultant vir verdere navrae.
Raadslid Coetzee het nie geweet van ons aansoek nie. Inteendeel, was ek vervies dat hy na die raadsvergadering nie eens met my kontak gemaak het om my iets daarvan te sê nie. Ek het later gedink miskien het hy nie my naam in die paragraaf gesien nie, of dalk dat hy nie dit as my erken het nie.
Raadslid Coetzee het ook nie tot voor die trust se aansoek eers geweet van die trust nie. Ons filantropiese werk beskou ons as privaat, en ons voel gebelg dat soveel mense nou meer van ons liefdadigheidswerk weet as wat ons ooit van plan was om te openbaar.
Ek was by geen raadsvergadering of koukus, of burgermeestersvergadering nie, dus weet ek nie wat daar gesê word nie. Maar soos ek die respekteerbareraadslid L. Coetzee ken, twyfel ek of hy iets kan/sou doen wat tot ons onregmatige voordeel kon wees. Derhalwe kan ons as die trust bevestig dat ons verbintenis nie tot die aansoek bygedra het nie.
Ons vanne is dieselfde, dus sou die trust dit nie kon verbloem nie. Ons weet nie eens hoe dit aan die lig gekom het dat ons familie is nie, tensy hy dit openbaar het, want die aansoek sê niks daarvan nie.
Die oprig van ‘n tydelike “caretaker condo” is uit die agenda gelaat. Kan julle meer inligting hieroor verskaf?
Direk nadat die trust opgemerk het die dat opsigters "condominium" oorgeslaan is in die item, het die trust dit dadelik op skrif aan die munisipaliteit gestel.
Na ondersoek het die munisipaliteit ons skriftelik, per voorgeskrewe kanale om verskoning gevra vir die oorsig. En is daar voorgeneem om dit spoedig moontlik reg te stel. Derhalwe is ek verheug die nodigheid vir die "condominium" kom ter berde, sodat die saak in die reine gestel is en publieke deelname kan plaasvind met daai inligting beskikbaar, voor die finale raadsvergadering.
In terme van die bewarings deel van die ooreenkoms soos volgens die agenda: kan julle meer spesifieke besonderhede gee oor wat die bewaring sal behels?
Dat die fasiliteite nie mag inmeng met munisipale dienste nie.
Dat die doel en aard van die publieke parkeerterrein publieke area is, en dat dit oop, volle toegang, ongehinderd, en vrye toegang sal bly. Dit gaan so teen die titel geregistreer word.
Dat area in stand gehou word en nie beskadig sal word buite die ablusie/condominium eenhede nie.
Dat die trust gehoor sal gee aan enige en alle toekomstige omgewingsbewarings instruksies van die munisipaliteit, soos dit bekend word.
Hierdie is 'n "open-ended" ooreenkoms, en kan die munisipaliteit verpligtinge op die trust plaas, soos toekomsvereistes dikteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’