MOSSELBAAI NUUS - Die speurafdeling van Mosselbaai-polisie moes vanmiddag, Maandag 19 Junie, van kolonel Tiger, afskeid neem.
Dié rondloperkat is al sedert 2016 'n instelling by die polisiestasie ná hy deur die speurders ingeneem is, maar nierversaking het daartoe aanleiding gegee dat Tiger uit sy pyn verlos moes word en hy is vroëer vanmiddag deur 'n veearts aan die slaap gemaak.
Sedert hy deur die speurders op Mosselbaai ingeneem is, was dié kat al verskeie kere in die nuus.
In 2020 was die speurders rasend van bekommernis toe hy vir drie weke vermis was.
Soos dit egter 'n ware speurder betaam, het hy nie te veel uitgewei oor sy doen en late nie.
Die vermoede bestaan egter dat 'n wyfie wel 'n rol gespeel het voor hy weer sy gebruiklike plek op een van die kantoorstoele ingeneem het.
Dié kolonel, wat so deur die speurders gedoop is, het hom min gesteur aan die woelinge in die kantoor wanneer hy sy gebruiklike slapies ingekry het.
Vir sy aanneem-ma, Anne-Marie van Huizen, 'n klerk by die kantore, was dit moeilik om die nuus met Mossel Bay Advertiser te deel.
"Ons moes die moeilike besluit neem om kolonel Tiger vanmiddag van sy pyn te verlos," het sy gesê.
Sy sê van die speurders het gedurende die naweek dit onder haar aandag gebring dat kolonel Tiger nie homself is nie.
"Die veearts het bevestig dat hy al aangestap het in jare," het sy gesê.
Kolonel Tiger sal gemis word, maar hy het kleur gegee en sy sterk teenwoordigheid in veral die oggende, sal gemis word.
Kolonel Tiger se aanneem-ma, Anne-Marie van Huizen is gebroke oor sy dood.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’