MOSSELBAAI NUUS - Speurders van die polisiestasie op Mosselbaai het vanoggend, op Maandag, 12 Oktober gejuig van vreugde toe hulle geliefde aangenome kat, Kolonel Tiger nadat hy vir drie weke vermis was, teruggekom het.
Kolonel Tiger se aanneemma, Anne-Marie van Huizen. ‘n klerk by die polisiekantoor, sê hulle was rasend van bekommernis toe die baas van die kantoor, Kolonel Tiger skielik nie meer soggens die speurders met sy sterk teenwoordigheid verwelkom het nie.
Die Kolonel woon sedert 2016 by die polisiestasie en was baie tuis in die speurkantoor. Hy het gereeld op ‘n kantoorstoel opgekrul en die speurders het geweet dat hulle vir die katbaas moet luister.
Kolonel Tiger het sy eie slaapplek by die kantoor gehad en sou bedags daar slaap terwyl die speurkantoor om hom woel. Hy het egter ‘n paar weke gelede net verdwyn en nie oudergewoonte die speurders op kantoor kom groet nie.
Die Kolonel is terug. Kolonel Tiger het vanoggend voor die kantoor se deur gesit en die omgewing bekyk. Hy het ook seker gemaak dat al die speurders vir diens aanmeld.
Hierdie foto is die eerste foto wat sedert Kolonel Tiger se verdwyning, vanoggend van hom geneem is.
Van Huizen sê hulle was almal baie hartseer oor die Kolonel se verdwyning. “Ons was rasend van bekommernis. Ons het die Dierebeskermingsvereniging gebel en het Kolonel Tiger oral waar ons kon op sosiale media as vermis aangemeld. My hart was verskriklik seer en die kantoor was net nie dieselfde sonder hom nie.”
Sy het vanoggend nog ‘n boodskap aan die Mossel Bay Advertiser gestuur en gesê die Kolonel is steeds soek. Kort daarna het ‘n speurder by die kantoor vir Van Huizen egter ‘n foto gestuur van ‘n honger Kolonel wat sy kos eet.
“Ek is oorstelp van vreugde! Wat ‘n wonderlike manier om die week te begin. Ek weet nie waar die Kolonel was nie maar ons vermoed iemand het hom dalk gevat en toe bewus geraak van al die aandag oor sy verdwyning op sosiale media.”
Die Kolonel het sy magie vol geëet en lê sedertdien op ‘n stoel in die kantoor en slaap. Welkom terug, Kolonel.
Anne-Marie van Huizen se Maandag het met goeie nuus afgeskop nadat Kolonel Tiger na drie weke teruggekeer het kantoor toe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'