MOSSELBAAI NUUS - Dit is nie aldag dat 'n syfermens 'n woordmens word nie.
Jopie Coetzee het hierdie, dalk in sommige se boek, bykans onmoontlike metamorfose ondergaan - met sukses.
Coetzee het verlede Saterdag, 18 Mei die plaaslike bekendstelling van sy jongste boek, Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure, aangebied. Sover bekend, is hierdie boek, waaraan Coetzee sewe jaar van sy lewe toegewy het, die eerste Paasroman in Afrikaans sedert die verskyning van FA Venter se Man van Cirene (1957). Die enigste ander soortgelyke boek is CJ Langenhoven se Hertzogpryswenner, Skaduwees van Nasaret (1927).
Erna Maritz, 'n plaaslike resensent van Danabaai beskryf Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure, as "’n boek waarvoor jy maar op jou boekrak kan plek maak, want jy gaan hom weer soek en lees".
"Dis Paasgebeure word nuut aangebied uit die Paasgebeure soos ons dit in die Bybel lees. Die hele Paasverhaal word saamgevat en uitmekaargehaal tot een groot geheel.
Jopie het die verhaal soos ons dit in die Evangelies lees, chronologies laat saamloop terwyl hy die karakters waarvan ons soms net met ’n naam van kennis neem, laat opstaan en lewe het," meen Maritz.
In die boek word Simon die Melaatse se verontwaardiging omdat sy belangrikheid nie in ag geneem word nie beskryf. So ook Judas Iskariot se moeder se naakte rou oor haar seun se verraad en selfdood. Annas se stryd met die Jesus-waarheid word uitgebeeld en Pontius Pilatus se vrou is van die mense wat die leser eerstehands leerken.
Daarbenewens speel hedendaagse gewone mense ook ’n rol en plaas hierdeur die boek reg in die leser se midde.
"Die werklike gebeure gedramatiseer in die werklike lewe, beskryf met naakte emosie," merk Maritz ten slotte op.
Video
'n Insiggewende video wat gedurende die bekendstelling vertoon is, vertel die storie agter die storie. Hierin verklap Coetzee onder andere sy skrywersdroom, muse, kreatiewe denk- en skryfproses, die wesenskenmerke van die boek en ook sy soeke na die onvertelde verhale van gewone mense wat die Paasgebeure op 'n prakties manier laat gebeur het, dus diegene wat 'n klein rol gespeel het om eeueoue profesieë prakties te vervul.
Hoe Coetzee homself omskep het van ingenieur na skrywer, het nie net skryfkursusse behels nie, maar ook die herontdekking van moderne Afrikaans na bykans veertig jaar in die Engelse besigheidswêreld. Barmhartige Samaritaan het hom aanvanklik gehelp met basiese taalreëls, skryfpraktikums en die deurlees van die HAT se meer as 2 miljoen Afrikaanse woorde totdat hy weer sy Afrikaanse voete gevind het.
Hierdie verhaal van deursettingsvermoë behoort enige persoon aan te spoor om sy eie droom waar te maak.
Die video oor Coetzee se skryfreis word vertoon tydens sy boekpraatjies en is eersdaags op YouTube beskikbaar.
Coetzee gesels graag oor sy pennevrug. Vir meer inligting oor die boek of om 'n gespreksgeleentheid te bespreek, kontak jopie@global.co.za
* Jopie Coetzee is ook die sameroeper van die Mosselbaai Skrywers- en Digtersvereniging.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'