Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Florawegaansluiting by Louis Fourieweg by Danabaai is tans 'n hoë botsingsgevaar nadat verkeersligte in die onlangse vandalistiese protesoptrede beskadig is. Motoriste word gemaan om waaksaam wees en te let op die stoptekens wat aangebring is en die kruising as tydelike drierigtingstopstraat te benader. Na wat verneem word sal verkeersbeamptes tydens spitstye hier puntdiens doen.
Intussen is die 25 belhamels wat Maandag, 2 Julie vir die verontwrigtende optrede voor die hof gedaag is, is in die Mosselbaai-landdroshof borgtog toegestaan.
Onder aanvoering van Lt Kol Albert Haggard van die Mosselbaai-polisie het die gesamentlike operasionele sentrum tydens hul vergadering besluit om werksaamhede nie af te skaal nie, maar waaksaamheid eerder te verskerp. Die gemeenskap kan steeds enige inligting van verdagte optrede (044 606 2208) rapporteer.
Daar bestaan steeds slegs spekulasie oor die werklike rede(s) vir die vandalistiese wyse waarop 'n handjievol belhamels en misdadigers die gemeenskap van Mosselbaai op Vrydag, 29 Junie met brandstigting, kriminaliteit en oproerigheid ontwrig en verontrief het. Van voor sonsopkoms die oggend is berigte ontvang van brandstigting en oproerigheid en het werknemers vanuit veral Aslapark laat blyk dat hulle geïntimideer word om tuis te bly terwyl verkeer verhoed is om vanuit Danabaai en op die N2 te beweeg.
Die N2 tussen Voorbaai en die Danabaai-afrit vanaf die N2, asook die gedeelte van Louis Fourieweg vanaf die Florawegaansluiting na Danabaai en die Casinoweg/Mayixhalestraat-verkeerskruising was vir die grootste deel van die dag vir verkeer gesluit terwyl klipgooiery en brandstigting voorgekom het. In Voorbaai is vragmotors op die N2 voorgekeer deur verkeers-beamptes en het gou 'n opeenhoping van verkeer gevorm, met dieselfde situasie wat ook aan die PetroSA-kant van die N2 ontstaan het. Verkeer is via die Herbertsdalepad na die R328 herlei om Mosselbaai en die gevaar van klipgooiery en brandstigting vry te spring.
Operasionele bestuursentrum
Lede van die onderskeie polisiestasies het onder aanvoering van kol Mark Hartzenberg van die Da Gamaskop-polisiestasie, lt kol Albert Haggard van die Mosselbaai-polisiestasie en kol Stripp van die Da Gamaskop-polisiebevelsone 'n gesamentlike operasionele bestuursentrum tot stand gebring van waar alle optrede teen die geweldpleging gekoördineer en gemoniteer is.
Wetstoepassers en nooddienspersoneel van die onderskeie vertakkinge in Mosselbaai het die ganse naweek onbaatsugtige diens gelewer om te keer dat die vandalisme versprei of skade aan infrastruktuur veroorsaak word. Vandale het daarin geslaag om brand te stig by die munisipale vullisstortingsterrein terwyl buitebande verbrand is op en veldbrande langs die N2 en Louis Fourieweg gestig is.
Kobus Crous van Mossel Bay Helicopters se dienste is ingeroep om die brande wat gestig is op die munisipale vullisstortingsterrein op Louis Fourieweg te blus.
Die brand by die stortingsterrein het weer eens baie diepliggend begin smeul en meganiese toerusting is sedertdien ingespan om die bron te ontbloot en te blus. Soos in die verlede, toe brandstigting ook tot brande by die stortingsterrein aanleiding gegee het, ly die inwoners van veral Highwaypark en Aslapark weens die rook wat die gesmeul afgee.
Brandbestryders werk die ganse week reeds om die brand en rook onder beheer te kry, maar nie eens die milde reën kon daarin slaag om die situasie te beredder nie.
Die vandale het vroegoggend brand gestig by die munisipale vullisstortingsterrein op Louis Fourieweg.
Kobus Crous
Die Mosselbaai-munisipaliteit het die dienste van Kobus Crous van Mossel Bay Helicopters Vrydagoggend ingeroep om met die brandbestryding te help aangesien die risiko van skade aan brandbestrydingsvoertuie té groot was. 'n Helikopter van Starlite Aviation is ook vir skadeberaming gebruik.
Verskeie berigte is deur die loop van Vrydag ontvang van klein groepies belhamels wat groepeer, brand stig, ontbind en weer elders hergroepeer het.
Lede van die polisie se openbare orde polisiëringseenheid is sedert vroeg die oggend na Mosselbaai ontplooi en het telkens die misdadigers met rubberkoeëls uitmekaar gejaag. Lede van die KwaNonqaba-polisie het teen vroegdag reeds 28 oproeriges gearresteer.
Teen laat namiddag het wetstoepassers 'n relatiewe kalmte herstel, net tot ongeveer 22:45 Vrydagaand toe klipgooiery en vandalisme weer veroorsaak het dat Louis Fourieweg tussen die brugaansluiting na die N2 en die Casinoweg/Mayixhaleweg-verkeersaansluiting weer vir verkeer gesluit is.
Die vandale het vroegoggend brand gestig by die munisipale vullisstortingsterrein op Louis Fourieweg.
Vanuit Danabaai het die munisipaliteit inderhaas 'n spesiale, tydelike nooduitgang tot stand gebring, hoewel die hoogstens geskik vir bedrewe viertrekvoertuigbestuurders was. Gevalle het voorgekom van inwoners wat dringend mediese sorg nodig gehad het maar nie die woongebied kon verlaat nie.
Deur die nag is 'n gespanne kalmte gehandhaaf, wat vir die duur van die naweek geduur het. Die operasionele sentrum het met gereelde tussenposes belanghebbendes ingelig gehou met situasieverslae. Hoewel gebeurlikheidsplanne opgestel is vir 'n herhaling van die vandalisme en ontwrigting het kalmte geseëvier.
Lees verwante artikels:
• Vergadering oor protesaksie
• Louis Fourie Road and N2 open
• Mossel Bay protest update
• Latest update: Protest action
• Mosselbaai-protesaksie: 15 gearresteer
• Mossel Bay protest action: Situation tense
• Municipal manager calls for calm
• Protesaksie: Situasie gespanne
• Protest action in Mossel Bay
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'