Update
MOSSELBAAI NUUS - Hilton Levendal, 'n klaer in die saak teen 'n landbouer van Herbertsdale wat tereg staan op verskeie klagtes, onder meer van poging tot moord, sal nooit die uitslag van dié saak hoor nie.
Levendal (48) is aan die einde van verlede maand oorlede. Hy sou volgens inligting eers later vanjaar sy kans kry om in die hof te getuig.
Die landbouer, Frik Muller het na bewering met 'n trekker in die rondawel waarin Levendal en sy vrou gewoon het vasgery, glo in 'n poging om die struktuur te vernietig.
Die voorval het in Februarie 2018 plaasgevind.
Muller word daarvan beskuldig dat hy by drie gevalle tussen 6 Desember 2017 tot 25 Februarie 2018 mense op sy plaas aangerand het. Die klagtes teen hom is drie van poging tot moord, drie van aanranding met die doel om ernstig te beseer, drie van opsetlike saakbeskadiging, een van crimen injuria en vyf klagtes van besit van 'n vuurwapen sonder 'n lisensie.
Muller was vir meer as 'n jaar in aanhouding voordat borgtog aan hom toegestaan is.
Dawid Kamfer, Wes-Kaapse leier van Icosa, wat Levendal en sy familie sedert die voorval bygestaan het, het sy skok oor Levendal se afsterwe te kenne gegee.
"Hilton se afsterwe was 'n groot skok, juis in die lig dat Hilton die hoofgetuie was in die saak. Icosa sal ook graag wou sien, dat Hilton moes sien dat geregtigheid seëvier."
Die Mossel Bay Advertiser het gepoog om 'n onderhoud met Levendal se familie te voer, maar Kamfer het berig dat hulle nie met die media wil praat nie.
Die saak teen Muller dien weer op 14, 15 en 21 September voor die hof.
Vorige artikels:
- Herbertsdale-boer se saak weer uitgestel
- Rompslomp hou landbouer binne
- Herbertsdaler slagoffer van slenterstrik
- Borgtog geweier vir landbouer
- Landbouer steeds in aanhouding
- Borgtogaansoek vandag weer voor die hof
- Opvolg: Borgtogaansoek uitgestel
- Slenterspul met borgaansoeke in hof ontbloot
- Opvolg: Borgtogverhoor van boer
- Boer se borgtogaansoek uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'