Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Landbouer van Herbertsdale, mnr Frik Muller, wat daarvan beskuldig word dat hy by drie voorvalle sedert 6 Desember tot 25 Februarie mense op sy plaas sou aangerand het, is op Donderdag, 22 Maart borgtog deur landdros Clifton Maseti in die Mosselbaai-landdroshof geweier. Hy sal weer op 12 April in die hof verskyn.
Landdros Maseti het in sy uitspraak swaar gesteun op die tydsverloop tussen die drie voorvalle van aanranding wat, volgens getuienis wat deur die Staat gelei is, telkens in intensiteit toegeneem het.
Voorts, het landdros Maseti gesê, vereis mnr Muller se boerderybedryf dat hy fisies op die plaas moet wees, en het sy regsverdedigers nie genoegsaam aangedui hoe dit vir hom moontlik sal wees om nie die plaas te betree waar die klaer steeds woon nie.
Die landdros het die Staat toegegee dat 'n waarskynlikheid, nie noodwendig 'n moontlikheid nie, bestaan dat Muller met die klaers en/of bewyse kan inmeng sou hy op borgtog vrygelaat word. Die staatsaanklaer is me Zandile Hobongwana.
Klagtes
In totaal is 11 klagtes, onder meer van poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, aanranding gewoon, beskadiging van eiendom en die besit van onwettige vuurwapens teen Muller gebring.
Die staat het borgtog teengestaan omdat Muller ingevolge getuienis gelei deur die ondersoekbeampte, sers Rudi Swanepoel, gereken word as 'n "bedreiging vir die klaers, omdat die klaers vir hul lewens vrees as borgtog toegestaan sou word en Muller weer op die plaas sou kom, omdat die klaers steeds op die plaas woon en geen ander heenkome het nie, die verhouding tussen die klaer en Muller versuur het en omdat die gemeenskap van Mosselbaai teen borgtog vir die beskuldigde gekant is".
'n Sterk polisieteenwoordigheid is verlede week in die Mosselbaai-landdroshof se A-hof gehandhaaf tydens die borgtogaansoek van 'n landbouer van Herbertsdale, mnr Frik Muller, wat onder meer van poging tot moord aangekla word. Foto: Nickey le Roux
Hof nie voorgeskryf
Landdros Maseti het erkenning gegee aan 'n petisie van 600 handtekeninge wat vroeër aan senior landdros, me Leticia Freeman oorhandig is en waarin aangedring is dat borgtog geweier moet word. Hy het egter dit baie duidelik gemaak dat die hof nie deur politieke partye voorgeskryf sal word nie.
Hermie Wentzel en Wikus Kriel, regsverteenwoordigers vir die verdediging, het skriftelike getuienis aangebied van 'n permanente werker op Muller se plaas, asook 'n buurman, wat die klaers se weergawe van die gebeure weerlê het. Die landdros het gesê die skriftelike getuienis het egter die hof nie die geleentheid gebied om deur viva voce getuienis insig te kry in die vrae wat daaruit gespruit het nie.
Hy het pertinent genoem dat die moontlikheid van korrektiewe toesig oorsigtelik genoem is, maar dat daar nie pertinent met die opsie omgegaan is nie.
Die verdediging het wel aangedui dat Muller 'n melkkudde en ander diere op die plaas aanhou wat veral in die heersende droogte goed bestuur moet word, dat sy inkomste van die boerdery afhanklik is, en dat hy benewens sy werker ook finansieel sy 84-jarige ma ondersteun.
Hulle het aangevoer dat sy wesensbestaan in gedrang gebring word deur hom borgtog te weier.
Die landdros het in sy uitspraak nie na hierdie aspek verwys nie.
Dit was opvallend dat die politieke belangstelling in die saak met verloop van tyd getaan het. Met Muller se aanvanklike verskyning was die hofsaal volgepak van ondersteuners in politieke kleredrag en was tot 13 polisielede in die hofsaal vir die duur van verrigtinge.
Muller, wat deurentyd tydens die borgtog-verrigtinge alleen in die beskuldigdebank gesit het, het by tye sigbaar emosioneel geraak, veral toe getuienis gelei is oor sy besit van vuurwapens wat aan sy pa behoort het.
Daar was aansienlik minder mense in die hofsaal tydens die tweede verskyning vir 'n bortogaansoek van Frik Muller, 'n landbouer van Herbertsdale teen wie klagtes van onder meer poging tot moord aanhangig gemaak is. Foto: Nickey le Roux
Lees vorige artikels:
- Landbouer steeds in aanhouding
- Borgtogaansoek vandag weer voor die hof
- Opvolg: Borgtogaansoek uitgestel
- Slenterspul met borgaansoeke in hof ontbloot
- Opvolg: Borgtogverhoor van boer
- Boer se borgtogaansoek uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'