MOSSELBAAI NUUS - Die saak teen die landbouer van Herbertsdale, mnr Frik Muller is verlede week weer eens in die Mosselbaai-landdroshof uitgestel, die keer tot 15 Mei vir verhoor, terwyl sy regspan die hooggeregshof vir borgtog sou nader.
Muller word daarvan beskuldig dat hy by drie geleenthede vanaf 6 Desember tot 25 Februarie mense op sy plaas sou aangerand het, en is sedert 4 Maart in aanhouding.
Muller se regspan, mnre Hermie Wentzel en Wikus Kriel, het na bewering vir meer as drie weke, by herhaling maar sonder sukses probeer om ‘n transkripsie van die hofverrigtinge tydens die uitspraak van die borgtogaansoek op Donderdag, 22 Maart, te bekom.
Dit was genoodsaak om die hooggeregshof met nuwe inligting betreffende borgtog vir Muller te nader. As regsverteenwoordigers vir die beskuldigde is hulle geregtig op die transkripsie van verrigtinge.
Aanvanklik is na bewering aangevoer dat die transkripsie nie beskikbaar was nie omdat probleme met die klankopnames ondervind is. Ondanks vertoë na die senior landdros, Leticia Freeman, en waarskuwings deur die regspan dat dringende vertoë aan die hooggeregshof sal volg om die transkripsies beskikbaar gestel te kry, was dit steeds nie met die aanvang van verrigtinge op Donderdagoggend, 12 April voor landdros Clifton Maseti vir Muller se regspan beskikbaar nie.
Die transkripsie is eers op 18 April per e-pos aan die verdediging beskikbaar gestel. Op 12 April het landdros Maseti gelas dat Muller in aanhouding bly tot die hofverrigtinge op 19 April, waarna die saak weer uitgestel is, hierdie keer vir verhoor, tot 15 Mei.
Persone wat die hofverrigtinge deurentyd bygewoon het, het op voorwaarde van anonimiteit hul frustrasie met die ellelange verloop van verrigtinge, nog voordat dit op verhoor geneem word, uitgespreek.
Anders as met die vorige hofverskynings, waartydens tot 13 polisielede in die hofsaal ontplooi is en die galery vol gesit het van ondersteuners van politieke partye, was daar weinig belangstelling in die verrigtinge sedert Muller aanvanklik borgtog geweier is.
Siviele geding
Intussen is ‘n siviele geding teen Muller, wat terselfdertyd op Donderdag, 12 April gebring is ingevolge die Wet op Voorkoming van Onregmatige Uitsetting en Onregmatige Okkupasie van Grond, Wet 19 van 1998 (“PIE”), ook uitgestel tot 15 Mei.
Lees 'n vorige artikel: Herbertsdaler slagoffer van slenterstrik
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'