MOSSELBAAI NUUS - Die landbouer van Herbertdale wat op onder meer 'n klagte van poging tot moord om borgtog aansoek doen, Frik Muller was waarskynlik 'n slagoffer van 'n slenterspul met borgaansoeke wat reeds geruime tyd bedryf word.
Die plaaslike polisie is vertroud met die werkwyse van bedrieërs wat vanuit die gevangenis verhoorafwagtende persone teiken. Muller was in aanhouding sedert sy arrestasie vroeër vandeesmaand.
Volgens getuienis van die ondersoek-beampte, sers Rudi Swanepoel in die borgtogaansoek het 'n familielid van Muller, Petra du Toit op Vrydag, 9 Maart 'n selfoonoproep ontvang van iemand wat hom as 'n kaptein in die polisie sou voorgestel het.
Die "kaptein" sou aan Du Toit gesê het dat sy dringend R15 000 in 'n bankrekening moes oorbetaal om borgtog te bewerkstellig.
Politieke sensitiwiteit
Die "kaptein" het voorts aangedui dat die borgtogaansoek in die Mosselbaai-landdroshof reeds op Vrydag, 9 Maart voorgekom het weens die politieke sensitiwiteit van die saak.
Du Toit is verder gemaan om die oorbetaling dringend te doen aangesien die hof om 13:00 vir ete sluit en die geld voor dan ontvang moes wees.
Skynbaar is Du Toit toe toegelaat om 'n kort telefoniese gesprek met Muller te voer alvorens die selfoontelefoonverbinding na bewering onderbreek is.
Sy het egter die besonderhede van 'n Absa-rekeningnommer by die sogenaamde kaptein gekry waarin sy toe die geld oorbetaal het. Direk na die oorbetaling gedoen is, het Du Toit haar na die hof gehaas vir instruksies vir Muller se borgtog, net om te verneem dat Muller se borgtogaansoek nie op dié Vrydag plaasgevind het nie.
By die KwaNonqaba-polisie het sy verneem dat sy waarskynlik deur 'n skelmstreek ingeloop is.
'n Klagte van bedrog is in hierdie verband by die Mosselbaai-polisie aanhangig gemaak en word deur ao Briel ondersoek.
Lees 'n verwante artikel: Landbouer steeds in aanhouding
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'