BOGGOMSBAAI NUUS - 'n Groepie aktiewe stappers het vroëer vandeesmaand tydens 'n vroegoggendstappie op 'n verrassing of twee afgekom.
Tydens 'n staptog tussen Vleesbaai en Boggomsbaai, is die vrouestappers se waardering vir die mooi kuslyn versuur deur tonele waar plastiekwaterbottels, -sakke en –proppe, asook vislyn, toue en ander gemors gestrooi gelê het.
Die groep het egter nie geskroom om van die vullis op te tel nie.
Terwyl die stappers druk besig was met hulle opruimingstaak, kom Mia du Plessis op 'n vonds af toe sy 'n klein plastiekbottel met iets binne-in tussen die rommel gewaar.
"Toe ek die klein plastiekbottel raaksien wat 'n gedig daarin het, het ek besef dat dit nie vullis is nie," verduidelik Mia. Sy het die bottel huis toe geneem vir verdere ondersoek.
"Tuis maak ek dit oop en sien daar is 1-dollarnoot in met 'n gelamineerde gedig waarop iemand se Instagram- en facebookbesonderhede is.
"Daar was ook 'n servet in wat geparfumeer was en wat die dollarnoot laat lekker ruik het."
Aangesien Mia nie 'n Instagram- of facebookrekening het nie, het sy een van die ander stappers gevra om die persoon, 'n ene Anju Kapoor te kontak.
Die stappers tydens die skoonmakery. Mia du Plessis wat die bottelboodskap ontdek het, is links te siene.
Vir 'n ander vriend het sy toe gevra om op die jong vrou se Instagram-rekening in te gaan.
Dit blyk asof Anju Kapoor, volgens haar facebook-blad tans in Bahrein woon, maar dat sy oorspronklik van Indië is.
Van die ander vrouestappers het glo via Instagram en facebook met Kapoor probeer kontak maak uit nuuskierigheid om meer uit te vind oor haar bottelboodskap.
Volgens Mia du Plessis was daar tot op hede nog geen terugvoering nie.
Die inhoud van die bottel wat stappers tussen rommel op die strand opgetel het.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Boggomsbaai, Tuinroete nuus'