MOSSELBAAI NUUS - Die dreigende, donker, swanger wolkemassas het die afgelope week ons harte bly gemaak, maar ongelukkig het die groot reën ons verbygegaan. Die Garden Route Casino-gholfdag het op Woensdag, 9 Augustus (Vrouedag) 164 spelers na die baan laat stroom.
Die perfekte weersomstandighede het gesorg dat uitmuntende tellings in die beterbal stableford-kompetisie aangeteken is. Thys Greyvenstein en Johny Fourie was behoorlik op hulle stukke en met 50 punte het hulle die louere ingeoes. Om die tweede, derde en vierde plekke te bepaal moes van die uittelstelsel gebruik gemaak word. Twee van ons top juniors, Ulrich Steinhobel (voorgee 4) en Jordon Duminy (voorgee +1), se tweede plek (49 punte) spreek boekdele vir hulle ontluikende talent.
Die derde en vierde plekke, ook op 49 punte, is onderskeidelik deur André Middel en Roelof Engelbrecht, asook Clive Kaptein en Michael Kriel ingeneem.
Rene Hendry en Cheryl Tooth, asook Shirley Greig en Hannelie Borchardt het met reg ook hulle stemme dik gemaak op Vrouedag, want op 48 punte het hulle gedeel in die heerlike vleispryse.
Saterdag
'n Heerlike wintersdaggie, net soos Mossel-baai kan bied, het Saterdag, 12 Augustus ruim bygedra tot die gholfliefhebbers se jubelende gemoedstemming wat die heerlike samesyn met vriende, kennisse en besoekers verseker het. Die individuele syferplus-kompetisie is gekenmerk deur goeie tellings.
Danie van Langelaar se +8 het hom loshande wenner van die A-afdeling gemaak. 'n Besoeker van Malmesbury en wenner van die B-afdeling, Wim de Beer, het nie net ons klub se gasvryheid geniet nie, want sy goeie gholf (+8) het ook getoon dat hy ons baan baie geniet het.
Dons de Wet se gholf het die afgelope tyd baie verbeter en op +6 was hy die wenner van die C-afdeling. Goeie tellings is ook deur die volgende spelers daar gestel: Dawn Wessels (+7), Christo Spies (+6), Malcolm Hyman (+6), Martiens Mulder (+5) en Eugene Duthie (+5).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'