Update
MOSSELBAAI NUUS - Die vrou wat beskuldig word van die moord op Hagan Brits (17) het vandag, 4 September, in die Mosselbaai-landdroshof verskyn, waar haar borgtogaansoek gefinaliseer is.
Zenia Frans (40) is vrygelaat op borgtog van R2 000 en streng voorwaardes waaraan sy moet voldoen.
Sy mag nie in kontak met enige van die getuies in die saak of die Brits-familie kom nie, en moet by haar suster se huis bly totdat die saak afgehandel is.
Hagan is in die vroeë oggendure van Sondag 24 Augustus noodlottig in die bobeen gesteek.
Hy is na die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal gehaas waar hy later, net na 02:00, dood verklaar is.
Frans is glo ’n buurvrou van die Britse in Asla Park, KwaNonqaba. Sy is op Woensdag 27 Augustus in hegtenis geneem.
Die hof het verskeie faktore in ag geneem voor sy besluit om borgtog toe te staan, insluitende die feit dat Frans geen vorige veroordelings, uitstaande arrestasies of lopende sake het nie, asook ’n verklaring van die beskuldigde dat sy nie ’n vlugrisiko of bedreiging vir die gemeenskap en die moontlike getuies in hierdie saak sal wees nie.
Die saak is tot Vrydag 17 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’