MOSSELBAAI NUUS - 'n Sewentienjarige seun wat Sondag nood-lottig met 'n mes gesteek is, se ouers beleef 'n tweede moordtragedie - drie jaar na die vorige een.
Hagan Brits se ouer broer, Rowano (18), het sy ouers, Hazel Dean Brits en Reginold Everts, vroeg op Sondag 24 Augustus geroep en gesê dat Hagan naby hulle huis in Gubayostraat lê, en dat daar oral bloed is.
"Ons het onmiddellik die ambulans en polisie gebel, maar toe ons al daardie bloed sien, kon ons nie meer wag nie. Ons kon hom nie net daar laat lê het en niks doen nie, toe jaag ons self met hom hospitaal toe," het Everts gesê.
Hagan is teen 02:00 daardie oggend in die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal dood verklaar.
Brits sê Hagan se dood het ou wonde oop-gekrap, en dat sy in die ure daarna gesukkel het om sin van alles te maak.
Die 17-jarige Hagan Brits is op 24 Augustus vermoor, drie jaar ná sy broer se sinnelose dood. Foto: Verskaf
"Ek kon net nie glo dit het weer met ons gebeur nie. Ek was stomgeslaan," sê sy.
Dit is omdat hierdie die tweede soortgelyke tragedie is wat die familie in slegs drie jaar tref. Hulle ander seun, Raywin Brits (18), is in November 2022 naby die Aslapark-gemeenskapsaal vermoor. Hy is met 'n stomp voorwerp teen die agterkop geslaan.
Twee mans, Stalin Michaels (21) en Luwayn Kanemeyer (35), is kort daarna in hegtenis geneem en sal op 29 September op 'n aanklag van moord in die Thembalethu-streekhof in George verskyn.
In hierdie jongste insident is 'n 40-jarige vrou van Aslapark, Zenia Frans, Woensdag-oggend, 27 Augustus, in verband met Hagan se moord in hegtenis geneem. Die omstandighede van die voorval is nog nie bekend nie.
Raywin Brits is in November 2022 vermoor. Foto: Verskaf
Frans bly in aanhouding tot haar volgende hofverskyning op 4 September wanneer sy om borgtog aansoek sal doen.
Brits sê Hagan was baie geheg aan sy twee broers. "Op skool het hy graag sport gespeel en hy het altyd mooi oor die weg met almal gekom. Hy het regtig 'n pragtige hart gehad. Oral waar hy gegaan het, het mense hom gegroet."
Nou het die gesin net een seun oor - Rowano, die middelste broer.
Gedenkdiens en begrafnis
'n Gedenkdiens vir Hagan sal môre, Saterdag 30 Augustus, by die familie se huis in Gubayostraat gehou word, waar-na die begrafnis by die Nuwe Apostoliese Kerk in Alhofrylaan, D'Almeida, sal plaasvind.
Die familie vra dat enigiemand wat hulle met die begrafniskoste wil ondersteun, vir Everts by 076 393 5472 kontak.