Update
MOSSELBAAI NUUS - Die familie van die vrou wat in haar Ocean View-woonstel in die middedorp van Mosselbaai ver-moor is, sê hulle is geweldig geskok oor die voorval.
Polisiebeamptes moes op Maandag 1 September die deur van die woonstel in Crookstraat, waar die slagoffer, Heleen Annandale (62), alleen gewoon het, oopforseer nadat sy vroëer deur 'n vriendin as vermis aangemeld is.
Annandale is met 'n wond aan die nek in haar woonstel aangetref. Sy is op die toneel dood verklaar.
Die presiese oorsaak van haar dood is nog nie bekend nie en sal deur 'n nadoodse ondersoek bepaal word.
Die Mosselbaai-polisie het binne 48 uur 'n 39-jarige man in KwaNonqaba in verband met die moord in hegtenis geneem. Foto: Louise Karsten.
Die Mosselbaai-polisie het binne 48 uur 'n 39-jarige man in KwaNonqaba in verband met die moord in hegtenis geneem.
Annandale se voertuig is verlate in Mooneystraat, KwaNonqaba, gevind.
Die verdagte sal na verwagting vandag, Vrydag 5 September, in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en diefstal van 'n motorvoertuig.
Sy identiteit sal eers ná afloop van sy eerste hofverskyning bekend gemaak word. Sy verbintenis met Annandale, indien enige, is nie tans bekend nie.
'n Familielid het die afgelope week aan Mossel Bay Advertiser gesê Annandale het drie dogters gehad. Twee van hulle woon in die buiteland.
Nog geen begrafnisreëlings is teen die ter perse gaan bekend gemaak nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’