Update
MOSSELBAAI NUUS - ’n Vriend van die vermoorde 62-jarige vrou wat gister in haar woonstelgebou in Crookstraat gevind is, het haar as vermis aangemeld.
Dit het volgens polisiewoordvoerder Sersant Chris Spies daartoe gelei dat die Mosselbaai-polisie na die slagoffer se woonstel by Ocean View in die sakekern ontbied is en dat hulle ongeveer 11:00 die deur moes oopforseer.
Hulle het op die slagoffer se liggaam met ’n wond aan die nek afgekom. Sy is op die toneel dood verklaar.
Verdere ondersoek het getoon dat haar voertuig, ’n Toyota Starlet, nie op die perseel was nie.
Polisiebeamptes het egter gister kort nadat die vrou se liggaam ontdek is op die verlate voertuig in Mooniestraat, KwaNonqaba, afgekom.
’n Nadoodse ondersoek sal later die week op die slagoffer gedoen word om die presiese oorsaak van haar dood te bepaal.
Die identiteit van die oorledene is nog nie bekendgemaak nie.
Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die toneel kort nadat die vrou se liggaam ontdek is. Foto: Louise Karsten
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’