OPINIE - Ek ly jaarliks in Mei aan chroniese heimwee. Meimaand assosieer ek met gemengde gevoelens en uiterstes: baie hartseer of baie blydskap.
En as ek Mei moet visualiseer, dink ek altyd aan ’n rooi en bruin herfsblaar wat stadig grond toe val.
Dit is seker wat in my kop ingeprent is toe ek verdwaas op 7 Mei 2021 in die parkeerterrein van die hospitaal, waar my geliefde pa kort tevore oorlede is, langs die kar gestaan en na ’n dwarrelende herfsblaar gestaar het.
Dit was die vreemdste gedagte: dat ons nou gaan wegry van die hospitaal af, en dat my pa se liggaam nog daar is.
Ek onthou hoe my sussie iets alledaags gesê het, soos dat sy nie veel gepak het om oor te slaap nie omdat sy nie geweet het my pa gaan doodgaan nie, en dat ons Ackermans toe moet ry om vir haar ’n stel pajamas te koop.
'n Boom in herfs. Foto: Louise Karsten
In Ackermans het vrolike musiek oor die luidsprekers gespeel, en ek onthou net hoe ek die wêreld wou stopsit. Ek wou ’n knop kon druk waarop staan: stop. Ek wou tyd en kans hê om tot verhaal te kom.
Alles het so vinnig gebeur, en die mense in die winkel rondom my het aangegaan asof niks gebeur het nie.
My oudste dogter, Anoux, verjaar ook in Mei, vyf dae na my pa se sterfdatum. Ek onthou hoe moeilik dit was om haar verjaardag in 2021 te vier kort nadat my pa dood is.
Ons het nog gaan uiteet, en almal het deur die motions gegaan, want daar was nie ’n stop-knoppie nie.
Sy word vanjaar 17 en is vir my een van die mooiste mense op hierdie aarde. Ek voel innig dankbaar vir haar in my lewe, en dat ons in Mei nog ’n lewensjaar saam kan vier. My pa het ook in Mei verjaar, vyf dae ná Anoux.
Jaarliks gedenk ek sy dood in Mei, vier my dogter se lewe, en drink ’n glas vonkelwyn op my pa se verjaarsdag.
Ek is seker die familie van die 18-jarige Charlize Botha sou ook die wêreld vir ’n tydjie wou stop.
Verskeie koerante het die afgelope week oor Botha, van Gauteng, berig, wat in die vroeë oggendure van Saterdag 11 April dood is toe die voertuig waarin sy saam met vriende gery het teen ’n boom in Potchefstroom gebots het.
Charlize Botha
Dit is enige ouer se grootste vrees: om ’n kind aan die dood af te staan. Botha is slegs ’n jaar ouer as my eie kind.
Vanoggend toe ek Anoux by die skool aflaai, kyk ek vir ’n oomblik aandagtig na haar voor sy uit die kar klim. Haar sagte vel, groot oë en donker krulhare.
Ek wil nog baie sulke oomblikke met haar hê. Ek wil nog so baie van haar leer ken, en dit is my hartsbegeerte om haar te sien leef, groot word en ouer word.
My hart is regtig seer vir die Bothas, al ken ek hulle nie.
Ek verstaan nog hoe my pa kon doodgaan, want hy het ’n vol en lang lewe gehad, maar die dood van ’n jongmens verstaan ek nie.
Die aand van my pa se dood het ek vir ’n oomblik buite op die stoep gaan staan. Ek het opgekyk na die sterrehemel. Dit was sekelmaan. Ek het gewens ek kon in die swart ruimte verdwyn.
Dit is seker hoekom die Nasa-ruimtevaarders wat onlangs die Artemis II-missie suksesvol voltooi het, my fassineer het.
Ek het na verskeie onderhoude met hulle gekyk, en dit was veral aangrypend toe hulle vir ’n gehoor hul gewaarwordinge in die ruimte vertel.
Geloof is vir my ’n diep persoonlike ervaring, en tog het ek daarvan gehou toe Artemis II-vlieënier Victor Glover syne openlik gedeel het terwyl hy om die maan wentel.
Jy dink seker anders oor God en geloof wanneer jy die aarde vanuit die ruimte beskou.
Hy het onder andere ook die aarde as ’n pragtige ruimtetuig wat vir lewe geskep is beskryf.
En dit is so: ons is hier op aarde om te lewe, maar dit is nie altyd so maklik om voluit te leef of met innemendheid te leef nie.
Tussen die gejaag van my alledaagse take voel dit soms vir my of ek nie in die oomblik leef nie, maar net deur die motions gaan, soos in Ackermans vyf jaar gelede.
Ek wil partykeer net vir ’n oomblik kan stilstaan terwyl die wêreld om my aanhou draai.
Op Facebook is daar ’n groep wat ek volg, The Rising Stars Generation. Dit is ’n plek waarheen ouers hulle kinders kan stuur as hulle voel hulle het nie meer beheer oor hulle nie.
Op een van die groep se video’s is ’n seun wat sukkel om sy bagasie self te dra. Hy huil terwyl hy daarmee worstel, maar kry dit tog reg om een voet voor die ander te sit.
Een van die werknemers van Rising Stars moedig hom heeltyd luidkeels van die kantlyn af aan: “You cry while moving, boy. You cry while moving. That is how life works.”
Daardie ou is reg: let’s cry while moving.
* Louise Karsten is die redakteur van Mossel Bay Advertiser.