Khumbul’Ekhaya, ‘n Zoeloe-woord wat ‘Remember Home’ beteken, is daarop gemik om die gebroke menseverhoudings tussen gesins- en familielede te herstel.
Die twee susters is oorspronklik van Manenberg op die Kaapse Vlakte waar Siena as 13-jarige uit ‘n boom op ‘n klip geval en haar rug beseer het. Ofskoon daar nie aanvanklik opsigtelike skade was nie, het Siena se rug met tyd begin kromtrek.
Willemina, wat as ouer suster soos ‘n ma vir Siena was, het in Mosselbaai hervestig. Siena is vir ‘n rugoperasie na George gestuur waar Willemina haar kon versorg en sien dat sy aansterk. Na die suksesvolle operasie, het Willemina haar per trein na hulle ouers in die Kaap teruggestuur.
In die Kaap aangekom, was daar egter ‘n stiefpa op die toneel wat Siena en die res van haar gesin baie sleg behandel het, soveel so dat Siena haar uiteindelik deur ‘n vriendin laat ompraat het om van die huis af weg te loop. Die twee jong meisies, toe ongeveer 16-jaar oud, is onder valse voorwendsels op ‘n trein na Johannesburg gesit, waar hulle toe reddeloos en sonder heenkome agtergelaat is.
Siena, wat in daardie stadium nie ‘n ID-dokument gehad het en steeds nie een het nie, moes maar haar eie potjie krap in ‘n stryd om te oorleef. Sy het geheel kontak met haar familie verloor en op hulle beurt het hulle uiteindelik maar begin glo dat sy dood is. Almal, behalwe Willemina. Sy kon en wou haar suster net nie vergeet nie.
As ‘n ongeskoolde werker het Siena se omswerwinge haar uiteindelik in die Limpopo-provinsie laat beland waar sy erg mishandel en gereeld aangerand is deur haar lewensmaat. Intussen het sy bevriend geraak met ‘n winkeleienaar in haar omgewing wat haar oor Siena ontferm het. Siena was desperaat om haar omstandighede te ontvlug en het ‘n brandende begeerte beleef om terug te keer na haar suster in Mosselbaai. As sy haar egter maar net kon opspoor. Haar nuutgevonde vriendin het haar vertel van Khumbul’Ekhaya en het namens haar die korrespondensie aan die gang gesit.
‘n Briewewisseling is van stapel gestuur en op ‘n dag het die nuus gekom dat die produksiespan met Siena ‘n onderhoud sou hê. Toe begin die gewag op ‘n wonderwerk...
Twee weke gelede, tydens ‘n heruitsending van die program, kom roep Willemina se bure haar en sê dat sy moet kom kyk, want Khumbul’Ekhaya wys ‘n vrou wat soek na haar suster in Mosselbaai. Willemina het dadelik reageer, maar haar eerste poging was onsuksesvol.
Haar werkgewer, Melody Onckhuis, het per e-pos navraag gedoen en is binne ‘n uur deur die produksiespan gekontak, waarna ‘n telefoniese onderhoudgevoer is met Willemina sodat beskikbare inligting vergelyk kon word om te bepaal of Siena wel haar suster is.
Na groot geheimhouding het die langverwagte herontmoeting tussen die twee vervreemde susters op Maandag, 28 November plaasgevind onder die wakende oog van die Khumbul’Ekhaya, wat ook eers vooraf moes seker maak of die omstandighede gunstig is vir Siena se terugkeer na Mosselbaai.
"Ek was nie ‘n mens nie, ek was te bly om haar te sien! Ek het altyd geweet, eendag sal ek haar weer kan versorg" het Willemina tydens ‘n onderhoud met die Advertiser gesê. Siena sê sy sien uit om nou gesond te word na al die jare van mishandeling. "En dan," sê sy, "dan wil ek my ID-boek gaan kry."
Die produksiespan van Khumbul’Ekhaya, wat Siena na Mosselbaai gebring het om die herontmoeting te kon verfilm.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS