MOSSELBAAI NUUS - Die saak van Johnathan Kannemeyer (52) wat van die moord op die Mosselbaaier, Anestacha September verdink word, is op Donderdag, 6 Oktober uitgestel tot 18 November vir uitspraak. Kannemeyer is reeds sedert Desember 2015 in aanhouding.
Hy was 'n voormalige vriend van die oorledene. Hoewel hy verskeie kere om borgtog aansoek gedoen het, is dit telkemale van die hand gewys.
Anestacha is in Augustus 2014 laas lewend gesien. Na verskeie uitgebreide soektogte is haar oorskot in Februarie 2015 naby die Gondwana-wildreservaat in die Herbertsdale-omgewing gevind.
Tydens die hofsitting Donderdag het die staatsaanklaer Herman Steyn aan landdros Neels Nortjé gesê Kannemeyer het sy weergawe in drie gevalle aangepas. Steyn het gesê Kannemeyer het homself beskryf as die persoon wat Anestacha die heel laaste keer gesien het.
Hy het gesê Kannemeyer het drie keer die polisie mislei deur elke keer sy weergawe te verander.
Die verdediging het aan Nortjé gesê sy kliënt is al sewe jaar in aanhouding en dat sy regte daardeur geskend word. Die verdediging het ook gesê dat hoewel die staat beweer Anestacha verwurg is, die presiese oorsaak van dood nooit vasgestel is nie en dat die liggaam in 'n gevorderde stadium van ontbinding was.
"Die saak is uitgerek vir baie jare en die verdagte word nie daardeur regverdig behandel nie." Die verdediging het dit aan Nortje gestel dat die staat nie genoegsame bewyse het om Kannemeyer met die moord te verbind nie.
Lees vorige artikels:
- Uitspraak in Kannemeyer-saak verwag
- September-moordsaak vorder stadig
- Deskundiges getuig in September-moord
- Deskundiges getuig in September-saak
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'