MOSSELBAAI NUUS - Die hof moes verlede week deskundiges se getuienis aanhoor in die verhoor van 'n man wat tereg staan op die moord van 'n Mosselbaaise vrou wie se oorskot etlike maande na haar verdwyning eers in die Herbertsdale-omgewing gevind is.
Anestacha September is in Augustus 2014 as vermis aangegee. Na verskeie uitgebreide soektogte is haar oorskot in Februarie 2015 naby die Gondwana-wildsplaas gevind.
'n Voormalige vriend van September, Johnathan Kannemeyer (49) is in Desember 2015 in hegtenis geneem en van haar moord aangekla. Hy is sedertdien in aanhouding in die gevangenis op George.
Lede van die gemeenskap het deurgaans, sedert Kannemeyer se eerste hofverskyning, die verhoor met belangstelling gevolg. Tydens Vrydag, 20 April se verrigtinge in die Mosselbaai-streekhof, was dieselfde gesigte oudergewoonte daar.
Onder die deskundiges, was forensiese antropoloog Belinda Speed van Kaapstad, se getuienis besonder boeiend. Speed is verbonde aan die Universiteit van Kaapstad waar sy as 'n laboratorium-bestuurder in die departement patologie werk.
Sy is tans besig met haar doktorale studie en het aan die hof gesê dat slegs nagraadse studente in haar betrokke veld mag werk. Speed het gesê dat sy tot op hede in ongeveer 100 hofsake as deskundige getuienis gelewer het.
In haar getuienis het Speed verduidelik hoe haar span te werk gaan en dat hulle slegs met beendere werk om die identiteit van die oorledene te bepaal. Alle sagte weefsel word gedurende 'n proses verwyder wat daarop neerkom dat die beendere basies skoon gekook word.
Sy het uitgewei oor die maatstawwe wat gebruik word om die ouderdom, geslag, etnisiteit en uiteindelik, identiteit van die oorledene te bepaal.
Wat September se beserings betref, het Speed genoem dat daar 'n spiraal-fraktuur aan die linkerbo-arm, asook 'n ribfraktuur links was. Volgens Speed was hierdie beserings moontlik die oorsaak van geweld met 'n stomp voorwerp.
Sy het gesê dat die fraktuur aan die arm waarskynlik veroorsaak is deur 'n draai- of wringaksie en ook dat beide beserings peri-mortem opgedoen is, met ander woorde naby of met die intrede van die dood, aangesien daar geen tekens van herstel sigbaar was nie.
Lees 'n vorige artikel: Deskundiges getuig in September-saak
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'