MOSSELBAAI NUUS - 'n Ondersoek ter plaatse en die getuienis van forensiese deskundiges hierdie week was hoogtepunte in die moordsaak van Anestacha September, 'n Mosselbaaise vrou wat sedert Augustus 2014 vermis was en wie se oorskot in Februarie 2015 in die Herbertsdale-omgewing gevind is.
Die 49-jarige Johnathan Kannemeyer wat van die moord op September aangekla is, is sedert Desember 2015 in aanhouding nadat hy 16 maande na haar verdwyning aangekeer is. Hy was Dinsdag stil tydens die ter plaatse ondersoek naby die Gondwana privaat wildsplaas waar September se liggaam, soos dit in die hof beskryf is, in 'n "beboste, afgesonderde area" gevind is. Kannemeyer het van tyd tot tyd wel kortliks met sy regsverteenwoodiger, Olof D'Oliviera gekoukus.
Die hofverrigtinge Woensdag is soos in die verlede goed bygewoon deur belangstellende lede van die gemeenskap en familielede. Ook Kannemeyer se familie was goed verteenwoordig. Kannemeyer het per geleentheid gemoedelik met hulle gesels.
Die forensiese offisier betrokke by die vind en vervoer van September se oorskot in Februarie 2015, Elzaan Schoeman het Woensdag getuienis gelewer. Sy het die toestand waarin September se oorskot gevind is, beskryf. In haar getuienis het sy melding gemaak daarvan dat sy 'n "elektriese koord" om die oorledene se nek opgemerk het. Getuienis is ook gelewer deur twee plaaslike mediese deskundiges aangaande die bloed- en weefselmonsters wat geneem is.
Uitgebreide soektog
Kaptein Ashley Michaels, 'n lid van die ondersoekspan wat die uitgebreide soektog na September gelei het, het Woensdag aan die hof verduidelik watter metodes gevolg moes word om September se liggaam op te spoor. Sy het verduidelik dat tussen 15-20 polisielede van verskeie polisiestasies in 'n lyn langs mekaar in die veld en bosse gestap het opsoek na die oorledene se oorskot. In haar getuienis het sy, wat betref die ontdek van September se oorskot, ook na die teenwoordigheid van 'n koord om September se nek gepraat.
Kenner in forensiese antropologie aan die Universiteit Kaapstad, Belinda Speed sou ook Woensdag getuienis lewer, maar kon dit vanweë die afwesigheid van 'n tolk, nie doen nie. Sy het gister in die hof verskyn. Besonderhede van haar deskundige getuienis, asook die volgende datum waarop die verhoor hervat sal word, was teen druktyd nog nie bekend gewees nie.
Herman Steyn is die staatsaanklaer in die saak en die voorsittende beampte is streeklanddros JC Nortjé.
Lees van die vorige artikels hier:
- Vermiste, vermoorde vrou: Verhoor uitgestel
- Moordverdagte weer in hof vandag
- Man vas oor vermiste, vermoorde vrou
- Vrou se DNA positief geïdentifiseer
- Oorskot tydens soektoeg gevind
- Liggaam tydens soektog gevind
- Soektog na vermiste vrou duur voort
* Die moordverhoor van 'n boer, Freddie Tolman (52), begin Maandag in die rondgaande hooggeregshof op Mosselbaai. Tolman is op 17 Desember 2014 deur minstens ses mans op sy plaas Outeniquabosch buite Hartenbos voorgelê en doodgeskiet. Dié verhoor loop ten einde op 27 Oktober.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'