Update
MOSSELBAAI NUUS - Die 45-jarige man wat in Januarie 2016 'n Mosselbaaise vrou verwurg en haar liggaam by die PetroSA-tenkplaas in Bayview versteek het, waar dit twee weke later in 'n erge stadium van ontbinding gevind is, is op 3 September skuldig bevind aan moord en gevonnis tot 10 jaar direkte gevangenisstraf.
Die ontbinde liggaam van Janine Flores (23) is op 24 Januarie 2016, toegedraai in 'n kombers onder 'n bos naby die seefront gevind. Daar is aanvanklik vermoed dat dit die liggaam van 'n hawelose persoon sou kon wees, aangesien dit steeds in komberse toegewikkel was. Aanvanklik is geen gemenespel vermoed nie.
Die ID-dokument van 'n vrou is wel op die misdaadtoneel gevind, maar kon nie onmiddellik positief met die liggaam verbind word nie. Vanweë die gevorderde stadium van ontbinding, kon die oorsaak van dood nie bepaal word nie.
Op Donderdag, 28 Januarie 2016 is 'n verdagte man in verband met die gruvonds in hegtenis geneem. Na intensiewe ondervraging, het die verdagte, Eddie September 'n bekentenis afgelê dat hy Flores vermoor het deur haar te verwurg. Flores is glo te voet saam met September opgemerk voor haar dood. September was glo haweloos en 'n dwelmgebruiker ten tye van die voorval.
September was sedert sy inhegtenisname in aanhouding. Die saak is in Februarie 2016 na die Mosselbaai-streekhof verwys en op die hofrol geplaas.
Die saak is suksesvol ondersoek deur kst Wendell Januarie van die Da Gamaskop-polisiestasie se speurafdeling.
Die oorledene, Janine Flores se ma, die 43-jarige Elsie (Elizabeth) Flores, is op 26 April 2016, enkele maande na die moord op haar dogter aan 'n hartaanval oorlede.
Bronne het destyds aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat wyle Janine (23) haar (Elsie) se enigste kind was.
Lees vorige artikels hier:
- Tenkplaas-slagoffer en ma môre gedenk
- Verdagte vas binne 4 dae na ontdekking van liggaam
- Liggaam uitgeken, verdagte aangekeer
- Ontbinde liggaam by PetroSA-tenkplaas gevind
- Liggaam by PetroSA-tenkplaas gevind
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'