Liggaam uitgeken, verdagte aangekeer

Janine Flores. Foto: facebook

MOSSELBAAI NUUSFLITS - Die liggaam van 'n vrou, wat verlede Sondag, 24 Januarie by die PetroSA-tenkplaas in Bayview onder 'n bos naby die seefront gevind is, is geïdentifiseer.
 
Daar is aanvanklik vermoed dat dit die liggaam van 'n hawelose persoon sou kon wees, aangesien dit steeds in komberse toegewikkel was. Met die ontdekking van die liggaam, is vermoed dat die persoon reeds twee weke dood is. Aanvanklik is geen gemenespel vermoed nie.
 
Volgens die SAPD, het die uitslag van die nadoodse ondersoek verlede week egter daarop gedui dat die liggaam die van 'n bruinvrou, tussen 17- en 22-jarige ouderdom is en dat sy nie aan natuurlike oorsake dood is nie, maar dood is aan versmoring.
 
Die ID-dokument van 'n vrou is op die misdaadtoneel gevind, maar kon nie onmiddellik positief met die liggam verbind word nie. Familielede van die vrou wie se ID-dokument gevind is, het egter genoem dat die persoon reeds twee weke weg van die huis af is. Hulle het haar glo nie as vermis aangegee nie.
 
Die oorledene is wel intussen positief uitgeken as Janine Flores (23), 'n inwoner van Mosselbaai. Volgens inligting, het familie Maandagaand 'n gedenkdiens vir haar gehou, maar begrafnisreeëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.
 
Kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte het vandag by navraag bevestig dat danksy goeie ondersoekwerk, is 'n 43-jarige man op Donderdag 28 Januarie omstreeks 14:00, in Hartenbos in verband met die moord of Flores gearresteer.

Die verdagte, na bewering 'n hawelose man, het volgens kapt Fourie reeds 'n bekentenis afgelê en het gister, 1 Februarie voor die hof verskyn.

Konstabel Wendell Januarie van die Da Gamaskop-speurders was verantwoordelik vir die suksesvolle arrestasie en is die ondersoekbeampte in die saak.
 
 
Klik hier vir vorige artikels:

'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Mossel Bay Advertiser