MOSSELBAAI NUUS - Een van Mosselbaai se beste voorkitaarspelers vir meer as vyf dekades, David Daniels, is op Saterdag 24 Oktober ná ’n kort siekbed op die rype ouderdom van 77 oorlede.
Familie, vriende en aanhangers is in rou gedompel met die skielike heengaan van hierdie familiesteunpilaar en rolmodel vir baie jare se ontluikende musikante.
As ’n tiener het hy in die middel-1960’s sy musiekloopbaan by die bekende Bay Jazz Langarmorkes begin - die res is geskiedenis.
Daniels se dogter, Ravion, sê sy sal haar vader altyd vir die volgende onthou: “Hy was nie net ’n steunpilaar nie, maar altyd teenwoordig met baie liefde en geduld. Ek het baie by hom geleer. Sy nederigheid en respek teenoor sy medemens sal my altyd bybly. Hy was nie welaf nie, maar ryk aan karakter en wysheid, wat ’n positiewe invloed op baie mense se lewens gehad het.”
David, wat in die historiese woonbuurt Tarka grootgeword het, stam uit ’n ryk musiekfamilie. Sy oom, Joe Daniels, wat ’n begaafde vioolspeler was, was ’n stigterslid van die Bay Jazz Langarmorkes. Sy ander oom, Abie, sou een van Bay Jazz se beste saksofoonspelers word. Later sou David se ouer broer, Peter, nóg ’n befaamde saksofoonspeler, asook hul jonger broer, Gordon, wat ewe tuis op die baskitaar en tromme was, ook vir Bay Jazz speel.
Dit was onder die wakende oog van sy oom Abie wat David op ’n jeugdige ouderdom sy musiekloopbaan by Bay Jazz begin het.
Op 16 het hy sy eerste elektriese kitaar gekry in ’n era toe die Invaders en Flames van Suid-Afrika, asook die Shadows van England, onder die toporkeste getel het - in die 1960’s.
1966: Peter Petersen, Georgie Brown, David Daniels met sy eerste elektriese kitaar, Bennie Trimm, Les Langeveld en Reginald Robertson. Foto: Verskaf/Charles Theunissen
Baie van sy medeorkeslede en tydgenote uit daardie era, waarvan daar vandag min oor is, is dit eens: David was een van die eerste plaaslike musikante wat hierdie orkeste meesterlik op sy kitaar kon naboots!
In 1969, op 20-jarige ouderdom, het David saam met Bay Jazz hul eerste kortspeelplaat, D’Almeida Kwêla, opgeneem. Die agterkant se snit, “Golden Step”, is deur David gespeel.
Sewe jaar later het die orkes hul eerste langspeelplaat, Free Kick, bekendgestel, wat ook hul laaste opname was.
David was ook passievol oor gospelmusiek - daarvan kan sy familie en vriendekring getuig. In die laaste paar jaar was hy voltyds by die Anglikaanse Kerk se lof- en prysliedere-orkes betrokke.
Sy gesondheid het drasties verswak, wat ’n paar plaaslike musikante laat besluit het om hulde te bring aan hierdie legende deur middel van ’n vertoning by die Garden Route Casino se Bravo Lounge. David, wat die verrigtinge in ’n rolstoel bygewoon het, het dit terdeë geniet, ten spyte van sy gesondheid. Soos ’n familielid dit gestel het: “What a send-off!”
David se begrafnis vind Saterdag 3 October om 12:00 in die Anglikaanse Kerk in Uitbreiding 8 plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’