MOSSELBAAI NUUS - Met dié dat die Mosselbaai-gebied geen Blouvlagstrande vir die komende vakansieseisoen het nie, het sommige inwoners gewonder of dit beteken dat honde nou op hierdie strande toegelaat sou word.
Kortliks - nee.
In Oktober 2024 se operaadsvergadering het daar ’n item rakende die toegang van honde op strande vir die 2024/25 seisoen voor die raad gedien. Die Mosselbaai-munisipaliteit sê hierdie raadsbesluit is gegrond op ’n reeks vorige raadsbesluite wat so ver terug strek as 2013 en verband hou met omgewingstudies wat gedoen is. “Die raad se besluite staan onafhanklik van die Blouvlagstatus en die besluit van 2024/25 is nog nie deur ’n nuwe besluit herroep nie.”
Dus geld die inligting wat voorheen gedeel is steeds.
Geen honde word van 1 Desember 2026 tot 31 Januarie 2027 hier toegelaat nie:
• De Bakke-strand
• Santosstrand
• Klein-Brakrivier tussen die riviermond en die noordekant van die strand
• Hartenbosstrand
• Glentana-strand, wes na Groot-Brakriviermond
• Tweekuilen
• Suiderkruis
• Diasstrand
• Groot-Brakrivierstrand
• Die Punt.
Honde word van 1 Desember 2026 tot 31 Januarie 2027 hiér toegelaat (tussen 05:00 en 08:00 en dan weer tussen 18:00 en 20:00):
• Danabaai - tussen Eerste en Tweede Strand
• Diasstrand - tussen Twee-Kuilenriviermond en Bayview
• Hartenbos - tussen die riviermond en Klein-Brakriviermond
• Reebok/Tergniet
• Souwesia
• Alle gebiede van Glentanastrand - die hoofstrand en wes na Groot-Brakriviermond uitgesluit.
• Boggomsbaai - op die mees suidelike gebied van Boggomsbaai, asook op die strand noord van Eerste Strand, Vleesbaai.
Die munisipaliteit het verder gesê die dienstydperk vir menseredders is vanaf 1 Desember 2026 tot 15 Januarie 2027, 09:00 tot 18:00. “Strandveiligheid en toegangsbeheer sal soos in die verlede toegepas word.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’