Update
MOSSELBAAI NUUS - Die 30-jarige Shadreck Mhetu wat van die moord op Hartenbos-inwoner, Desmond Share (52) aangekla word, het vandag sy borgaansoek in die Mosselbaai-landdroshof laat vaar.
Mhetu is in Du Noon in Kaapstad in hegtenis geneem nadat Share se liggaam op 5 Augustus tussen bosse naby Albertinia gekry is.
Share is vier dae voor sy liggaam gevind is deur sy familie as vermis aangemeld nadat hy sy huis verlaat het om werk in Herbertsdale te doen.
Share is vermoor en sy bakkie was vir etlike dae vermis maar is intussen in Ficksburg naby die grens van Lesotho gevind. Twee verdagtes wat in Share se bakkie gevind is, is in hegtenis geneem.
Intussen het die polisie die identiteite van nog twee verdagtes, wat met die moord op Share verbind kan word, bekend gemaak. Dit is Shown Gondo (31) en sy broer, Akim Gondo (25).
Een van die verdagtes was glo ‘n werknemer van Share.
'n Lasbrief vir die Gondo's se inhegtenisname is intussen deur die Mosselbaai-landdroshof uitgereik.
Enigeen met inligting oor waar die Gondo's hulself kan bevind, word versoek om die ondersoekbeampte in die saak, ao Arleen Stokes, te kontak by 044 606 2213 of 061 317 2239.
Vorige artikels:
- Desmond Share se bakkie gevind
- Inwoners teken petisie teen Share-verdagte se borg
- 1 in hof vir moord op Share
- Verdagte in hof vir moord op Desmond Share
- Desmond Share se dood bevestig
- Vermiste man se bril gevind
- Vermiste man se voertuig op kamera gesien
- Hartenbos-sakeman word vermis
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’