Breaking News Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Verdagte, Shadreck Mhetu (30), het vanoggend vlugtig in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, ontvoering en kaping van Hartenbos-inwoner, Desmond Share (52).
Share is verlede Dinsdag deur sy familie as vermis aangemeld nadat hy die oggend Herbertsdale toe was om werk te doen.
Hy het ‘n wit Ford Ranger waarop die woorde Guru Gutter staan, gery.
Sy selfoon was volgens betroubare bronne laas om ongeveer 16:00 verlede Dinsdag aan, en kringtelevisiekameras het om 18:06 dieselfde dag, Share se bakkie met twee insittendes by die BP-vulstasie by Buffeljagsrivier opgetel.
Mhetu is in Du Noon in Kaapstad deur die polisie in hegtenis geneem. Nog drie verdagtes, wat met Share se moord verbind kan word, is steeds op vrye voet.
Soekspanne het Saterdag op Share se liggaam naby Albertinia in ‘n beboste gebied afgekom.
Hy het volgens die polisie verskeie beserings opgedoen en is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar.
Die bevestiging van Share se dood is aanvanklik deur die polisie van die media weerhou.
Die Mossel Bay Advertiser het betroubaar verneem dat die polisie nog tyd wou hê om die res van die verdagtes te probeer opspoor, om te voorkom dat die verdagtes dalk moontlik landuit sou vlug, sou hulle deur die media van Mhetu se inhegtenisname bewus word.
Die aard van Share se beserings is nog nie offisieël aan die Mossel Bay Advertiser bekend gemaak nie en ‘n nadoodse ondersoek sal dit bepaal.
Die voertuig is nog nie opgespoor nie.
Mhetu bly in aanhouding en verskyn weer op 15 Augustus in die Mosselbaai-landdroshof wanneer hy formeel om borgtog sal aansoek doen.
Vorige artikels:
- Desmond Share se dood bevestig
- Vermiste man se bril gevind
- Vermiste man se voertuig op kamera gesien
- Hartenbos-sakeman word vermis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’