MOSSELBAAI NUUS - Die brand wat die afgelope Maandag sowat 100 hektaar en twee huise verwoes het, het heelwat vrae laat ontstaan oor die droë veldtoestande en of dit 'n bydraende rol kon gespeel het in die wyse waarop die brand versprei het.
Die Mossel Bay Advertiser het 'n plantkenner, dr AnneLise Schutte-Vlok van CapeNature vir kommentaar daaroor genader.
Sy sê daar is ‘n paar belangrike punte wat 'n mens in ag moet neem:
•Die Hartenbos Heuwels-ontwikkeling is in ‘n vuurgedrewe ekosisteem gebou. Die natuurlike plantegroei bestaan uit renosterveld op die droër hange en fynbos op die koeler suidelike hange. Beide hierdie plantegroeitipes is afhanklik van periodiese brande vir hulle langtermyn voortbestaan. As brande onbepaald uitgehou word, sal die veld geleidelik oorgaan na ruigtewoud en sal die besonderse en ryk fynbos en renosterveld biodiversiteit verplaas word. Dit is juis hierdie rykdom aan spesies wat die area so uniek maak. Wanneer daar egter ‘n ontwikkeling plaasvind, raak vure ‘n probleem vir die mense wat daar woon.
Leer met brande saamleef
•Die feit is dat mense moet leer om met vure saam te leef. Dit is nie ‘n kwessie van óf brande gaan plaasvind nie, dit is ‘n kwessie van wanneer dit gaan plaasvind (soos wat ons gesien het in Knysna, Bettiesbaai, Hermanus, George, en dies meer), veral met die verlengde droogtes wat tans ervaar word en die sterk winde wat periodies waai.
•Mense moet ‘firewise’ (brandparaat) wees en hulle huise beveilig teen brande, veral ten opsigte van die plantegroei in tuine. Oulike webtuistes om te besoek is dié van Kishugu ( https://kishugu.com/firescape-your-home-before-its-too-late/) en die van https://Landworksnpc.com/firewise/. Aangrensende huiseienaars en gemeenskappe moet ook saam werk en beplan oor hoe om firewise te wees. Daar is verstommende videomaterial oor hoe die gemeenskap in Kranshoek die Knysna brande oorleef het – net omdat hulle firewise was (ek dink die video is op die Landworksnpc-webblad).
• Om die hele area aangrensend tot die ontwikkeling te gaan platstoot en reuse brandbane te maak, is nie die antwoord nie. Brandbane is slegs ‘n punt van waar ‘n brand beveg kan word. Dit stop beslis nie brande nie – veral nie met die sterk winde wat dikwels waai nie. Ek het persoonlik beleef hoe die wind ‘n brandende kool 2km ver dra en die veld aan die brand steek. Daarbenewens gaan sulke versteuring ook tot erosie lei en wat bly dan oor as habitat vir die skilpaaie en bokkies om in te leef en die insekte en voëls om nes te maak en te voed?
• Volgens Sandra Falanga, wat deel vorm van ‘n groep botaniste wat onlangs daar gaan stap het is die plantegroei in daardie area tipies renosterveld wat ons weet oor die algemeen nie baie hoog groei nie. Daar is ook nie grootskaalse of uitermatige digte pesplantindringing – wel kolle daarvan wat met relatiewe min moeite uitgeroei kan word. Gelukkig was daar nie plantasies in die area nie. Sy meen nie dat daar onbeheerste droë ondergroei was nie. Die materiaal wat onder plante versamel is belangrike humus vir insekte en spinnekoppe om in nes te maak, kleiner soogdiere om op te voed en saailinge om in te vestig.
Ergste droogte sedert 1940
•‘n Studie wat ná die Knysna-brande gedoen is om vas te stel watter rol die klimaat, weer en plantegroei gespeel het in die felheid van die brande (Kraaij et al. 2018) het bevind dat (sedert die 1940s) soortgelyke (as tydens die Knysna-brande) daaglikse weerstoestande (algemeen na verwys as die brandgevaarindeks of FDI ‘Fire Danger Index’) een maal elke drie jaar voorkom, maar dat die verlengde droogte wat die brande voorafgegaan het, die ergste was wat sedert 1940 vir George en Port Elizabeth gerapporteer is. In daardie geval het die pesplante en plantasies bykomende brandbare materiaal bygedra wat die intensiteit, felheid en skade van die vuur vererger het.
Dit het die beheer van die vure bemoeilik. Hulle het ook na die vlambaarheid van die fynbos, ruigtewoud en pesplantbesmette plantegroei gekyk. Hulle het gevind dat die voginhoud in die fynbos en ruigtewoud plante glad nie deur die voorafgaande droogte geaffekteer is nie.
•Wat wel waar is, is dat Mosselbaai en ook die aangrensende binneland tans ‘n erge droogte beleef en dat dit, tesame met sterk winde, die verspreiding en beheer van brande bemoeilik.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'