TUINROETE NUUS - Skuts van tussen agt en 85 jaar oud het onlangs aan die Suid-Afrikaanse sportskiet-, bewaring- en jagvereniging (Sascha) se interprovinsiale kompetisie in Klein-Brakrivier deelgeneem.
Die Suid-Kaapse jagters- en bewaringsvereniging (SJB) sê dit was vir hom ’n absolute voorreg om dié geleentheid op 10 en 11 Oktober aan te bied.
Die skuts het in afdelings vir handwapens, groot kaliber, .22-randslag en haelgewere deelgeneem.
Volgens die SJB het die manne, vroue en juniors van ver gekom om die bekende rustige atmosfeer van die Suid-Kaap te beleef, asook om mekaar gedurende die naweek die stryd op die skietbaan aan te sê. Onder die 94 deelnemers is plekke van so ver as Rustenburg en Oos-Londen verteenwoordig.
Die jongste deelnemer, Reyneke Meyer (8), en die oudste deelnemer, Johan Fourie (85), het namens hul SJB-spanne presies dieselfde teikens in die verskillende afdelings aangedurf. Reyneke is ook as die algehele wenner van die juniors aangewys - voorwaar ’n besonderse prestasie!
Spanne het in kategorieë vir vroue, juniors, veterane en mans oor afstande tussen 35 m en 200 m meegeding.
Daar was ook ’n moeilike en meer uitdagende baan waar valplate op afstande tussen 450 m en 500 m geskiet moes word.
Johan Kemp van die SJB het die hoogste telling in beide die .22-randslag- en jaggeweerafdelings behaal.
Die volgende skuts het die SJB se naam hoog gehou en is in die nasionale spanne opgeneem:
.22-randslag:
• Vroue: Anke Kemp, Karin Swanepoel en Beulah van Zyl
• Mans: André Barnard, Danie Barnard en Henk van Zyl
• Veterane: Niël Basson, Johan Fourie en Ford Winnertz
• Juniors: Reyneke Meyer en Frederik Zeelie.
Jaggeweer (jagtersklas)
• Vroue: Anke Kemp, Karin Swanepoel en Beulah van Zyl
• Mans: Johan Kemp, Christo Delport, Niaan Fourie en Danie Barnard
• Veterane: Niël Basson, Gert van Wyk, Ford Winnertz en Natie Fourie.
Skuts in aksie tydens die jaggeweerskiet.
Jaggeweer (skerpskutterklas)
• Veterane: Dries Strauss, James van der Linde en André Freemantle.
Haelgeweer
• Mans: Kobus Swanepoel.
Haelgeweerskiet in aksie.
Handwapen
• Mans: Sieg Minnie, Franco van der Merwe, Jasper van der Westhuizen en Etienne Bester
• Vroue: Renette Barnard, Ilse Potgieter, Marlize Redelinghuys en Julia Janse van Rensburg.
Die prysuitdeling is op die Outeniqua-wildsplaas gehou.
Die SJB het vir Ian Robertson en Louis de Jager, waarsonder die kompetisie skaars sou kon plaasvind, vir die beskikbaarstelling van hul plase bedank.
“Ons het ook groot dank en waardering vir die baanoffisiere wat die veiligheid op die baan verseker het, en dan ook vir die persone wat met sorg en akkuraatheid die tellings verwerk het. Ook ’n groot dankie aan die deelnemers en elkeen wat gehelp het om van die dag ’n sukses te maak.”
Die SJB het ook sy lede en ander belangstellendes daaraan herinner en uitgenooi na die jaarlikse ghongskiet wat op 15 November in De Rust aangebied word. Besoek die SJB se Facebook- of webblad (www.suidkaapjagters.co.za) vir meer inligting.