MOSSELBAAI NUUS - Klein Michelle Jordaan (5) was maar 18 maande oud toe haar ouers 'n gesprek oor die tekens van outisme by haar moes hê.
En ter wille van haar dogtertjie en ander soos sy, gryp mamma Christine enige kans aan om te help met bewusmaking oor outisme.
Michelle is op twee jaar oud amptelik gediagnoseer. "Ons dogtertjie is tussen die tweede en derde vlak op die spektrum. Sy benodig konstante toesig," sê Christine.
Sy en haar man, Tiaan, het vroeg reeds opgetel dat Michelle met sekere mylpale agter was en nie juis belangstelling in die mense en omgewing rondom haar getoon het nie. Aanvanklik het hulle gedink sy het dalk 'n gehoorprobleem, maar die toetse sou toe bewys dat dit nie die geval was nie.
Die onbekende
"Die pad voor diagnose was moeilik. Ons het bly glo dat sy dalk net 'n bietjie agter is en dat ons verniet bekommerd was, maar in ons harte het ons geweet, ons wou net nie hierdie onbekende pad begin stap nie."
Hulle het haar by 'n arbeidsterapeut gehad en ook navorsing oor outisme begin doen. In daardie stadium was Michelle in 'n kleuterskool, maar hulle het so 'n paar keer genoem dat sy hier en daar 'n bietjie sukkel, sê Christine.
"Toe jaareind kom wou hulle ons by die skool sien. Ek het hoop gehad dat hulle gaan sê sy vorder en doen goed, maar dit was die teenoorgestelde; hulle vermoede was [ook] daar.
"Ek wou sterk staan sodat hulle nie skuldig hoef te voel dat hulle die nuus moes oordra nie, maar in die kar het ek my hart uitgestort," sê sy.
Die volgende jaar het klein Michelle by 'n skool begin wat haar kon akkommodeer, en dis toe ook daar waar sy haar amptelike diagnose gekry het.
Christine sê Michelle is verskriklik sensitief vir sekere klanke, ligte en teksture. Sy het hulp nodig met alledaagse take soos eet, die badkamer gebruik, aantrek en meer. Sy is ook nieverbaal, so mamma en pappa probeer graag dat sy op ander maniere met hulle kan kommunikeer.
Michelle se swak- en sterkpunte ontmoet mekaar so in die middel.
Kommunikasie, sê Christine, is beslis 'n swakpunt vir hulle. "Geen ouer wil sien hoe hulle kind nie kan verduidelik of wys dat iets nie reg is nie. Maar liefde het geen woorde nodig nie.
"Haar sterkpunt is hoe sy vir jou wys sy is lief vir jou met haar stywe drukkies en saam giggel, en as sy met die diepste oogkontak haar koppie teen jou kop kom druk, dan weet jy sy het jou lief, al kan sy dit nie in woorde sê nie."
'n Dag op 'n slag
In hulle lewens is daar daaglikse uitdagings, vertel Christine. Maar hulle vat dit dag tot dag.
"Anders gaan jy jouself siek maak van bekommernis, veral oor die toekoms."
Daar is maar baie angs, sê sy. "Ons moet vertrou dat sy 'n goeie dag by die skool gehad het, omdat sy ons nie kan sê nie. Ons moet heeltyd toesig oor haar hou, want sy is nie bewus van gevare om haar nie, en dit maak dat ek en pappa nie afskakel nie.
"Maar tog is daar pragtige oomblikke. Sy lees 'n persoon vinnig, so ons vertrou haar oordeel van karakter. Die feit dat sy ons kies en liefde teenoor ons wys is die grootste eer. Sy is baie liefdevol teenoor ons op haar eie maniere."
Praat daaroor
Christine sê hulle ervaring is dat nie almal 'n begrip van outisme het nie. "Ons was self baie onkundig daaroor toe ons die pad eers begin stap het."
Juis daarom is sy altyd oop oor Michelle se outisme. "Ek praat graag daaroor as mense oor haar vra. Ek dink nie dit is iets wat ons as ouers oor skaam moet voel nie. Nie almal gaan verstaan nie, maar daar gaan wel baie mense wees wat bly is oor die kennis wat jy deel."
Haar een versoek aan mense wat met die klein Michelletjies van die wêreld te doen kry, is dat hulle nie vaskyk in dit wat hulle nié kan doen nie, maar wel dit wat hulle kán doen.
"Want daaruit leer jy dat die dinge wat klein lyk, die grootste verskil maak en die meeste vreugde bring."
Radio33 is tans besig met 'n onderhoudreeks, ook vir outismebewusmaking, en Christine was deel daarvan. Haar en Marilize Swart se onderhoude was op 27 April. Nog plaaslike ma's, Marlene van Niekerk en Donnagene Fourie gesels om 19:00 op 4 en 11 Mei onderskeidelik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’