BLOG - Net daar waar die donkerte en die lig ontmoet, sien 'n mens mos soms onwerklike verskynsels. So 'n gewaarwording tref my verlede naweek toe ek koes vir die koue buite 'n vulstasie in Stellenbosch. Ek is in die motor en wag op brandstof.
Kyk, ek sien nie meer te goed sonder my bril nie, maar ek wou darem sê - so 'n groot mop is straks 'n onmoontlikheid.
Met sy rug na my gedraai, staan die gedaante van 'n man in swart flenters geklee met 'n massa hare wat teen sy rug afkruip soos tentakels. Dit is duidelik selfs in die donker dat die man na alle waarskynlikheid nie vanaand in 'n warm bed gaan klim nie. Verwaarloos soos hy daar staan, pla hy g'n siel nie. Mense stap argeloos by hom verby op pad na die vulstasie se geriefswinkel asof hy 'n standbeeld is. 'n Jongerige vrou swaai egter haar kleuter na haar ander heup nadat sy amper in die mopman vasloop. 'n Paar jolige studente blaas Vape-walms in sy rigting terwyl hulle die energiedrankies wat hulle sopas gekoop het, begin oopmaak.
Die man bly roerloos staan. Wat op dees aarde maak hy?
Te nuuskierig om dit nou te laat gaan, sit ek my bril op en ruitveërs aan om die nattigheid op die voorruit, wat my sig belemmer, weg te vee.
Ek sien hoe die man metodies sy vingers aflek. Een vir een, met die sorg wat 'n manikuris sou gebruik om naelkuns aan te bring. Dit tref my dat die man nog die hele tyd besig was om iets te eet. Toe hy sy lyf effens draai met die vingeraflekkery, sien ek die kenmerkende ovaalvormige foeliebakkie van 'n sogenaamde garage pie. Ek sien hoe die man sy wysvinger nat lek en die bakkie sorgvuldig leegmaak. Hierna neem hy die papiersakkie waarin die eens vol foeliehouertjie was, maak 'n tregtertjie daarvan, en laat al die krummels wat met die etery daarop uitgeval het, terug in die bakkie gly. Weer word die vinger natgelek en die krummeltjies sorgvuldig opgeëet.
"Het mevrou 'n loyalty card of skryf ons vanaand die kindness af? Mevrou het mos nou 'n mooi klomp diesel ingegooi," sê die bekkige petroljoggie. Ek begin rondvroetel, soekend na my debietkaart. Toe ek opkyk is die mopman weg. Hy't verdwyn in die skadu's asof hy nooit daar was nie.
Vroeër die aand toe ek by vriende aandete geniet, lui die tafelgebed: "….dankie vir die voedsel op ons tafel ….en mag U toesien dat hulle wat nie het nie, vanaand iets te ete sal hê…"
Toe ek my motor aansluit en die brandstoftenk vol wys, besef ek, gedagtig aan die mopman, hóé versadig ek eintlik is. So vol soos my brandstoftenk.
Ek het nie vanaand of enige ander aand tevore al ooit my maaltyd met soveel eerbied geniet nie. Toe ek wegry kom sit daar 'n leegheid in my, omdat ek nie die hand was wat daardie garage pie aangegee het nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’