MOSSELBAAI NUUS - Ses jaar gelede het Karen Swanepoel (43) alles verloor. Haar man, Schalk (39) en haar kinders, Jeanelle (5) en Juan (2) is in 'n botsing reg van voor op die N1-hoofweg tussen Ventersburg en Winburg dood.
Karen was ook in die voertuig en is met ernstige beserings in die intensiewe eenheid in die Welkom Mediclinic opgeneem - die enigste oorlewende van 'n onomkeerbare gebeurtenis wat haar lewe in 'n oogwink verander het.
Die botsing was op 10 Januarie, 2012, twee dae voor haar 10de huweliksherdenking.
Sy is vir drie weke in die intensiewe eenheid behandel en het erge harsingskudding, 'n gekraakte borsbeen, 'n gekraakte nekwerwel, en 'n gekraakte pelvis tydens die botsing opgedoen. Sy het ook haar regter wangbeen en agt ribbes gebreek, wat veroorsaak het dat haar regterkantste long geperforeer is.
Met die geweldige impak, is 'n stuk van Karen se regteroor afgeskeur en sy het 'n diep snywond aan haar regterarm gehad. Maar nie een van haar wonde, het so diep gesny soos die verlies van haar gesin nie. Sielkundiges het Karen eers 10 dae na die botsing oor die dood van haar kinders en man ingelig, omdat hulle haar nie vroeër met die nuus wou skok terwyl sy nog harsingskudding gehad het, en moontlik nie die skokkende nuus sou onthou nie.
Karen glo egter die Here het haar reeds op die tragiese nuus voorberei omdat sy terwyl sy in 'n geïnduseerde koma was, 'n droom gehad het oor haar kinders wat dood is. Hoewel die droom afgespeel het in 'n ander situasie as die botsing, het Karen wel geweet haar kinders is weg. Sy het egter nie geweet dat Schalk ook in die botsing dood is nie.
Op 20 April, skaars drie maande na die botsing het Karen na Mosselbaai getrek omdat haar ouers in Desember 2011 na Mosselbaai verhuis het vir hul aftrede. Sy wou die stukke van haar lewe probeer optel.
Om aan te gaan
Ek ontmoet Karen in haar huis op Mosselbaai. Dit is ses jaar en agt maande later. Sy straal van geluk en in haar maag groei die tweeling, Reynard en Desiré. Haar man, André (47) is by die werk.
Hóé het sy aangegaan met haar lewe na so 'n traumatiese gebeurtenis? "Ek het ongelooflik baie ondersteuning gekry. Mense het vir my gebid, vreemde mense (plaaslik en oorsee) en mense wat my ken. Ek het besef ek is hier, want daar is 'n rede waarom ek nog hier moet wees.
"Die Here het die een deur na die volgende vir my oopgemaak." Maar terwyl Karen praat, kan ek in haar oë sien dat haar pyn nie sommer net oornag genees het nie. Daar was geen kitsoplossing nie.
"Hier is ek nou, ses jaar later en ek het dit dag vir dag, tree, vir tree, gevat. Ek moes letterlik nuut oorbegin met my lewe. Hoe doen mens dit? Maar die Here het my gewys. En alleenlik met Sy krag en genade kon ek staande bly.
"Ek het nog my af dae. Verjaarsdae, Moedersdag, Kersfees, dit bly moeilik, maar die seer word mettertyd beter en die aanvaarding meer."
Karen, wat as 'n dieëtkundige op Mosselbaai praktiseer, het vir André op 14 Oktober 2014 in 'n koffiewinkel op Mosselbaai ontmoet. "Ek was veronderstel om 'n vriendin te ontmoet, maar sy kon dit nie maak nie en André het ook op sy eie gesit. Ons het begin gesels en die res is geskiedenis." Karen is tans 32 weke swanger en sê hulle grootste, diepste hartsbegeerte is vervul.
"Ek weet hoe dit voel om eensaam te wees en my twee kinders en man aan die dood af te staan. Nogtans wil ek vir ander mense 'n inspirasie wees sodat hulle weet dat die Here altyd daar is. Ek wil getuig van die hoop in my lewe. Ek wil weer 'n loflied sing."
André en Karen sing 'n loflied omdat hulle 'n tweeling verwag.
Karen sê 'n vers wat vir haar en André baie beteken is Jer 29:11. Dit lui: "Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting."
Sy sê hoewel 'n mens soms voel dit is die einde nadat iets sleg gebeur het en daar geen hoop meer is nie, omskep die Here dit in die begin van 'n nuwe hoofstuk.
"Die Skrifgedeelte tydens die roudiens van my man en kinders, wat my altyd sal bybly, is Ps 43:5 - Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing. Hy is my helper en my God".
En dit is so. Vandag sing Karen weer 'n loflied. Sy kyk vorentoe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'