Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Nicklo Pedro, ‘n welbekende struggle-veteraan het sy stryd teen kanker verloor.
Pedro (54), is verlede week op Saterdag, 8 Mei tuis in die sorg van sy vrou, Jacqueline (Jacky) oorlede.
In ‘n persverklaring wat deur die ANC van die Wes-Kaap vrygestel is, is na Pedro verwys as “the people’s soldier and one of the brightest flowers of the revolution”.
Fotogalery: Nicklo Pedro: Mosselbaai se Mandela
Pedro is deur Umkhonto we Sizwe (MK) tydens sy regstudies aan die Universiteit van Wes-Kaapland gewerf. Nadat hy genoop was om uit Kaapstad van die veiligheidspolisie te vlug, is hy in Augstus 1957 naby die Lesotho-grens in hegtenis geneem. Hy is teruggeneem na Kaapstad waar hy aan die berugte marteltegnieke van ao Jeffrey Benzien* onderworpe was.
Sy verhoor, saam met 15 ander MK-soldate het in 1998 die Kaapse hooggeregshof plaasgevind en 65 dae lank geduur. Ander bekende name wat by die saak betrokke was, is Anwa Dramat en Jeremy Veary. Op 14 Desember 1988, is Pedro tot 14 jaar tronkstraf plus ‘n verdere 10 jaar, opgeskort vir vyf jaar gevonnis.
Hy het sy vonnis op Robbeneiland uitgedien en is in Mei 1991 vrygelaat.
Invloed
Familie en nabye vriende het vandeesweek by die Pedro-huis in Curlewstraat, D’Almeida byeengekom om die man wat hulle beskou as “Mosselbaai se Mandela” te onthou.
Dexter Brinkhuis, wat onder meer groot sorg geneem het om Nicklo tydens sy kankerstryd by te staan, sê dat enige vorm van onreg binne die gemeenskap sy vriend laat rooi sien het.
Nicklo se enigste oorlewende broer, Roderick wat besonder na aan hom was, vertel dat hulle as kinders danksy veral hulle ma se gemeenskapsbetrokkenheid as verpleegkundige en stigterslid van SANTA op Mosselbaai, eerstehands met die tipiese ongelykhede in Suid-Afrika te doene gekry het.
“My ma het baie in die gemeenskap rondbeweeg en omdat daar niemand anders was wat na ons kon kyk nie, het ons dikwels saamgegaan. Wat ons daar beleef het, het ‘n groot dryfveer in Nicklo se lewe en politieke loopbaan geword.”
Hulle ouers was bewus van sy broer se politieke oortuigings en het hom daarin ondersteun. Hulle het Nicklo ook tydens sy hofsaak en tronkstraf toegewyd ondersteun, ten spyte van teenkanting uit die gemeenskap.
Aktivis
Volgens ‘n niggie en oud-klasmaat, Melita Brinkhuis was Nicklo op hoërskool reeds ‘n vurige politieke aktivis. Volgens haar was hy toe al ‘n kampvegter vir geregtigheid.
“Hy het ‘n ongelooflike intellek gehad, jy kon na hom luister. En hy het nie emosioneel en sensasioneel geveg nie, maar met feite verdedig. Hy’t mense met hom saamgeneem en ‘n manier gehad om hulle tot orde te roep tydens konflik. He was so well read in matters of the time. Ons sou in ‘n kring sit en hy het ons polities opgevoed.”
Vanweë ‘n reeds bestaande bewussyn van die noodsaakliheid van ekonomiese bevryding, het Nicklo en van die ander politieke aktiviste handelsvakke geneem. Volgens Melits was Nicklo ‘n vurige voorstander daarvan dat skooleleierskap nie bloot op akademiese prestasie moet rus nie, maar dat leerlingrade met ‘n meer veteenwoordigende leierskapstelsel vervang moes word.
Sy glo, dat Nicklo op ‘n veel hoër vlak in die politiek moes kon wees, maar sy nalatenskap is juis die stukrag wat hy aan ander gegee het.
“Dít is sy poltieke belegging.”
Lenise Hendricks het vir Pedro skoolgehou en is dikwels tydens die stormagtige jare afgevaardig om met sy ouers te praat. Na sy ma verwys Lenise as iemand wat “baie sterk deurgekom het vir die gemeenskap”.
“As ek met Aunt Dora moes gaan praat het oor Nicklo, het sy altyd gesê ‘as hy vir geregtigheid veg, los hom’.”
Sy sê dat Nicklo haar altyd van die allerbeste raad bedien het. Sy noem hom haar “privaat prokureur”.
“As ek wou hê iets moes gebeur, het ek vir Nicklo gevra wat ons gaan doen. As hy iets vir die gemeenskap moes doen, het hy voluit daarvoor gegaan.”
Hy het saam met Lenise veral sy gewig ingegooi by die Anti Suicide-ondersteuningsgroep, asook Concerned Women of Mossel Bay, wat aksie neem teen geslagsgebaseerde geweld. Hy het gehelp om buurtwagstrukture te vestig en selfs tydens sy siekte, ‘n oog oor kriminele aktiwiteite in die buurt help hou.
‘n Hoogtepunt vir Lenise, was toe Nicklo in 2020 kort voor die Covid-19-inperking, die leerders van sy alma mater, Hoërskool Sao Bras van sy lewe en politieke stryd vertel het. “Hy kon aan die jongmense verduidelik dat hulle vryheid nie net in plek geval het nie, mense soos hy het geveg en gely daarvoor.”
Sy glo dat hy met sy afsterwe, nou uiteindelik volwaardig vry is.
Opoffering
Nadat Nicklo uit Mosselbaai na Kaapstad opgekommandeer is en toe genoop was ná die moord op Ashley Kriel, ‘n opgeleide ANC-terroris, vir die veiligheidspolisie weg te kruip, het lede van die gemeenskap die Pedros bygestaan om Nicklo te sien. Roderick vertel hoe hulle hom in Kaapstad besoek het.
“Hy het hom soos ‘n Moslem aangetrek en dan laai ons hom in ‘n kombi met gordyntjies voor die vensters op om ‘n draai te ry en te gesels.”
Ook op Mosselbaai, was dit ‘n moeilike tyd vir hulle familie.
“Ons huis is 24/7 dopgehou. Selfs skoolvriende is ingespan om te kom kuier en dan oor Nicklo te probeer inligting kry. Hy het altyd vinnig huis toe gebel soos hy kon om te laat weet dat hy okay is, maar hy het net met my gepraat. Hy het sy redes gehad al was dit moeilik vir my ma.”
Roderick vertel hoe hy sy ma weekliks na die hofverrigtinge in die Kaap geneem het.
“Toe my broer gevonnis is, het die regter nog vir hom spesifiek gesê dat dit ‘n jammerte is dat hy, wat uit so ‘n goeie huis kom, sulke verkeerde besluite geneem het.”
Hyself het nooit matriek voltooi nie. Nadat Nicklo op Robbeneiland gevangenisstraf begin uitdien het, moes die gesin ses maande voor die tyd aansoek doen om hom te besoek.
“Die aand voor ek my vraestel in Afrikaanse voorgeskrewe werk moes skryf, hoor ons van ‘n besoek. Ek moes ‘n keuse maak, skryf ek die vraestel of besoek ek my broer. Hy het 14 jaar tronkstraf gekry. Ek het nie geweet wanneer en of ek hom weer sal sien nie. Ek het nooit daardie vraestel geskryf nie.”
Besoeke aan Robbeneiland was ‘n slegte ervaring.
“Mens het nie geweet wat om te verwag nie. As ons op die bootjie klim, moes ons onder sit. Daardie tyd het die wit mense nog bo gesit. Jy kyk net so deur ‘n venstertjie en al wat jy sien is water. Ook op die eiland, kry ons toe slegs so ‘n klein venstertjie soos ‘n ID-foto waardeur ons moes besoek. Maar, dit het ons sterker mense gemaak.”
Roderick sê dat sy broer Nicklo se invloed op sy lewe hom die mens gemaak het wat hy vandag is. Ook daarom het hy Jacky bygestaan het om Nicklo tuis te versorg, ten spyte daarvan dat palliatiewe sorg by ‘n hospice voorgestel is.
Nicklo se vrou, Jacqueline vertel dat haar skoonma altyd gesê het dat die swaarste was om na ses maande se wag vir ‘n besoek, soms sonder waarskuwing aan te kom en haar seun nie te kon sien nie.
“As Nicklo iets gedoen het wat die owerhede nie aanstaan nie, dan is die besoek gekanselleer.”
Sy sê ook dat haar skoonma vertel het hoe sy Nicklo tydens die hofsaak gevra het of hy besef dat hulle mekaar dalk nooit weer kan sien nie.
“Sy antwoord aan haar was, ‘Mamma, dis al die goed waaraan ek gedink het voor ek die struggle gejoin het’. Die struggle was in sy DNA.”
Diensbaar
Na sy vrylating is Pedro versoek om by die Suid-Afrikaanse Weermag aan te sluit waar hy as luitenant dien. In 1995, keer hy terug na Mosselbaai om te dien as munisipale raadslid in die eerste ANC-beheerde munisipaliteit. Hier dien hy onder meer saam met Claire du Plessis en Michael Carelse, die eerste bruin burgemeester van Mosselbaai.
“Ons was jong manne, nog onervare en aan die diepkant ingegooi om Mosselbaai te verander van wat dit voorheen was.”
Carelse reken dat die raadslede, nie net ANC-raadslede van daardie tyd, min erkenning kry vir hulle rol veral in die formulering van Visie 2030.
“Mosselbaai was beskou as ‘n industriële dorp en deel van Visie 2030 was om toerisme as ‘n trekpleister te ontwikkel. Ons het die ‘endless horizons’ help skep. Nicklo was baie skerp. Hy kon met enigeen argumenteer wat betref tegniese, finansiële asook gemeenskapsake.”
Hy bevestig dat Nicklo ook by die Kwanele-projek teen dwelmmisbruik betrokke was. Armoedeverligting was vir hom ‘n groot saak, en gedurende veral die Covid-19-inperking het hy by voedselverskaffingsprojekte betrokke geraak.
“Op Kersdag het ons 1000 mense kos gegee. Ten spyte van sy siekte, was Nicklo by tye self in die kombuis om te help.”
Wayne Jordaan, wat saam met Nicklo in die Lesley Crotz-tak van die ANC gedien het, noem hom ‘n gemeenskapsmens by uitstek.
“Sy gesondheidstryd het nie in sy pad gestaan nie. Hy was nog in die tuig tot op die einde. Twee weke voor sy dood, het ons nog aan huis by hom vergader.”
Hy meen dat die marteling tydens Nicklo se aanhouding en die impak daarvan op sy pisge, nie onderskat moet word nie.
“Ten spyte van wat hy persoonlik deurleef het, het hy steeds die krag gevind om lief te hê en in te sit om die land ‘n beter plek te maak. Hy het nie wat gebeur het gebruik as ‘n verskoning om ‘n destruktiewe koers in te slaan nie.”
Wayne meen waarvoor Nicklo hom bewyer het, nie ‘n loopbaan was nie, maar ‘n leefwyse.
Besonderse liefde
Nicklo was drie jaar met Jacqueline getroud.
“Nicklo het my van ware humanity kom leer. Ek het gedink ek het geweet wat dit is, maar toe hy in my lewe kom, het hy dit so verduidelik dat ek ‘n nuwe siening gekry het.” Hy het haar kom leer wat ware liefde is, meen sy. Met sy laaste asem het hy sy liefde aan haar betuig. “Dit was so ‘n mooi oomblik.”
Jacqueline vertel dat sy die aand voor Nicklo se dood Ps 121 vir hom moes lees, nie uit sy Bybel nie, maar uit sy ma s’n.
“Toe hy Saterdag sterf, het die Bybel nog by hom gelê,” sê sy.
Volgens Jacqueline wou Nicklo nooit hê dat sy ma moes weet presies wat alles met hom in aanhouding en in die gevangenis gebeur het nie.
“Hy het min daaroor gepraat. Net een aand laat aan my vertel dat toe hulle hom onderstebo aan ‘n grill ophang en aanhoudend deur die gesig klap, dat dit vir hom die ergste was. Hy het gehuil en gesê hy voel beter. Maar die belangrikste was, hy het vergewe.”
Nicklo Pedro laat sy vrou, Jacqueline haar kinders, drie kinders uit ‘n vorige huwelik, twee kleinkinders, ‘n broer en ‘n suster agter.
Hy word op 22 Mei begrawe.
* Vir meer oor die verloop van die saak en van die marteltegnieke gebruik, lees https://sabctrc.saha.org.za/originals/decisions/1999/99_benzien.html en http://byronik.com/forbes.html
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'