MOSSELBAAI NUUS - 'n Foto van twee mense op die dak van hulle huis wat kort na dagbreek geneem is met die see en die Outeniquaberge in die agtergrond, het 'n leser van die Mossel Bay Advertiser so aangegryp dat hy dit met die koerant moes deel. By navraag, is bevestig dat die mense in die foto plaaslike tandarts, Wessel Pretorius en een van sy dogters is.
"Nou dat die wêreld stilstaan, waardeer 'n mens dinge net meer," het Pretorius vandeesweek aan die Advertiser gesê.
Hy meen dat die gesin, sedert inperking gereeld op die dak klim om die sonsopkoms en -ondergang te bewonder. "As dit vir ons lyk of iets moois gaan gebeur, dan klouter ons op die dak."
Pretorius sê dat die grendeltydperk vir hulle as gesin die ideale geleentheid bied om te fokus op 'n verdieping van hulle geestelike lewe.
Hy vertel van 'n foto wat hulle op Goeie Vrydag, 10 April van 'n besonderse sonsopkoms geneem het. Volgens hom het die wolke soos 'n arend gelyk.
"Ek het ons Vader ervaar wat Hom in die Woord beskryf as 'n arend wat hoog bo die aarde sweef en dié te hulp snel wat na Hom vra en Hom nodig het. He has everything under control. Just position yourself and seek His presence."
Hy sê hy leer tans sy kinders om nie op omstandighede te fokus nie. "Ons raak bewus van God as ons op die dak klim en dan los ons die omstandighede 'onder'."
Volgens hom was die eerste drie weke van inperking eintlik "genadetyd".
"Ek dink hierdie ekstra twee weke is 'verlengde genade'. Ons wéét die wêreld staan stil. Ja ons kan ons bekommer oor ons besighede en daaroor kla, maar ons kan ook die tyd gebruik om goeie selfdissipline aan te leer, en om onsself te dissiplineer dat wanneer alles weer in werking kom, sodat ons gereed is vir al die uitdagings."
Sonsopkoms op Goeie Vrydag soos tandarts Wessel Pretorius dit vasgelê het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'