Update
MOSSELBAAI NUUS - Leerders van Diaz Primêre Skool het Maandagoggend berading ontvang deur 'n span onder leiding van die Wes-Kaap onderwysdepartement, nadat 50 kinders Saterdag, 12 Mei onderweg huis toe vanaf 'n sportbyeenkoms, in 'n busongeluk betrokke was.
Die skoolhoof mnr Granville Briesies het vroeër vandeesweek by navraag gesê dat die kinders erg getraumatiseer is na Saterdag se gebeure. Die botsing het omstreeks 14:00 plaasgevind.
Volgens aanvanklike berigte is sewe beseerdes, almal beskryf as stabiel op die toneel deur nooddienste behandel.
Hoewel daar sover bekend nie ernstige beserings was nie, het mnr Briesies genoem dat die kinders wel beserings aan hulle arms, bene, nekke en ribbes opgedoen het. Die bus, van 'n bekende plaaslike busdiens Briesies Vervoer, het die leerders op Fourieweg in die rigting van Mosselbaai vervoer nadat hulle deelgeneem het aan 'n sportdag by Hartenbos Laerskool.
By die Langeberg Mall het die bus op die Aalwyndalpad regs gedraai om op die N2, rigting Kaapstad te kom.
Die afrit was glo toe vanweë die padwerke in die omgewing waarna die busbestuurder na bewering verder aangery en probeer terugdraai het na Louis Fourieweg.
Die blou Toyota Condor wat tydens die botsing deur die bus getref is.
In die proses het 'n bakkie van die padwerkekontrakteur glo voor die aankomende bus ingedraai waarop die bus uitgeswaai en met 'n blou Toyota Condor, waarin 'n vrouebestuurder was, gebots het.
"Ek bedank almal wat my gehelp het, in besonder 'n dame met die naam van Anne wat my kalm gehou het. Asook al die nooddienste. Baie dankie aan Life Bayview- hospitaal se personeel en dr Hobbs. Mag die Here julle innig seën vir die hulp wat julle verleen tydens sulke gebeure.
My familie en almal wat my bygestaan het, baie dankie, die woord klink so klein maar kom uit die diepte van my hart," het Corene Kruger, wat in die Toyota Condor was vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
'n Saak van roekelose en nalatige bestuur word deur die Da Gamaskop-polisie ondersoek.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'