Update
MOSSELBAAI NUUS - Leerders van Diaz Primêre Skool het Maandagoggend berading ontvang deur 'n span onder leiding van die Wes-Kaap onderwysdepartement, nadat 50 kinders Saterdag, 12 Mei onderweg huis toe vanaf 'n sportbyeenkoms, in 'n busongeluk betrokke was.
Volgens die skoolhoof mnr Granville Briesies is die kinders erg getraumatiseerd na Saterdag se gebeure.
Hoewel daar sover bekend nie ernstige beserings opgedoen is nie, het mnr Briesies genoem dat die kinders wel beserings aan hulle arms, bene, nekke en ribbes opgedoen het.
Een van die beseerde leerders is aldus mnr Briesies na die provinsiale hospitaal in George oorgeplaas vir waarneming, maar die seun was Maandagoggend wel by die skool gewees.
Die bus, van 'n bekende plaaslike busdiens het die leerders op Fourieweg in die rigting van Mosselbaai vervoer nadat hulle deelgeneem het aan 'n sportdag by Hartenbos Laerskool.
By die Langeberg Mall het die bus op die Aalwyndalpad regs gedraai om op die N2, rigting Kaapstad te kom. Die afrit was glo toe vanweë die padwerke in die omgewing waarna die busbestuurder na bewering verder aangery en probeer terugdraai het na Louis Fourieweg.
'n Botsing waarin 'n bus vol laerskoolleerders Saterdag om 14:00 op die Aalwyndalpad naby die Langeberg Mall betrokke was, het groot opspraak verwek. Daar is egter geen ernstige beserings aangemeld nie. Foto: Dave van der Mewe.
In die proses het 'n bakkie van die padwerkekontrakteur glo voor die aankomende bus ingedraai waarop die bus uitgeswaai en met 'n blou Toyota Condor gebots het.
Volgens aanvanklike berigte is sewe beseerdes, almal beskryf as stabiel op die toneel deur nooddienste behandel.
Die eienaar van die busdiens Briesies Vervoer, Kelvin Briesies het Maandagoggend by navraag aan die Mossel Bay Home Ads News genoem dat dit die eerste keer is dat hulle busdiens in so 'n botsing betrokke was. Hy wou nie verdere kommentaar oor die voorval lewer nie.
Lees 'n vorige artikel: Sewe beseer in botsing
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'