Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Jaco Londt, 'n jong, visionêre Demokratiese Alliansie-leier met passie, is pas aangewys as die Mosselbaai-kiesafdeling se nuwe politieke leier. Hy neem op 1 Mei die leisels as die nuwe politieke hoof vir die Mosselbaai DA-kiesafdeling.
Die Mossel Bay Advertiser het 'n paar vrae aan hierdie nuwe leier gevra; vrae wat al hoe meer op sosiale media opduik en waarop lesers antwoorde soek:
Vicky Momberg, Penny Sparrow – in beide hierdie gevalle het die DA hulle sterk teen die patente rassisme uitgespreek. Dog sien Suid-Afrikaners nie die DA optree teen die honderde voorvalle waar rassisme op sosiale media gedei en selfs rassehaat, haatspraak en geweldadige optrede aangehits word nie.
Daar is geen nuwe definisie van rassisme nie. Dit was, is en bly onaanvaarbaar – wie dit ookal uiter. Dit is tyd dat daar voorbeelde gemaak moet word van individue, of hulle nou wit, bruin of swart is. Niemand van ons word gebore om ander te haat op grond van hul velkleur nie. Rassisme word aangeleer.
Alle vorme van rassisme veroordeel ons ten sterkste. Die hartseer is dat rassisme dikwels rassisme aanwakker, dit is egter elkeen wat die besluit moet neem om op te hou, nie te reageer nie en om aktief rondom ons dit aan te spreek as ander so optree.
Daar moet egter ook gesorg word dat beriggewing gebalanseerd oorkom en die verantwoordelikheid wat elkeen van ons het om introspeksie te doen, om onsself en omgewing te genees van rassisme, vooroordele en die geneigdheid om mense te takseer op hul uiterlike.
Die ANC-regering het 'n beleid van onteiening sonder vergoeding van veral landbougrond omarm. Wat doen die DA om veral landbouers, maar ook ander kiesers met kaart en transport van eiendomme se eiendomsreg te beskerm?
Grondbesit is een van die mees emosionele kwessies wat die land tans in die gesig staar. Die een feit wat na gekyk en aangespreek moet word, is dat die meeste vrugbare en bruikbare landbougrond tans in die regering se hande is en onbenut of onderbenut word. Andersins moet eienaarskap van eiendom - die kaart en transport van eiendom - in mense se hande oorgedra word, of dit nou landbougrond of persoonlike eiendom is, mense moet die titelaktes van hul eiendom kry.
Die hoop en vrees wat gepaard gaan met die debat is beide geldige emosies en sal daar logika en wysheid aan die dag gelê word, dit, terwyl mense hoofsaaklik deur emosie gedryf word.
Die eerste wat ons vir mekaar moet se is dat daar in die onlangse verlede miljoene Suid-Afrikaners ontneem was van hul grond, hul erfreg en die stabiliteit van eienaarskap. Dit is 'n onreg wat plaasgevind het en wat ons en toekomstige generasies moet aanspreek en regstel.
Daar moet ook gesê word dat dit nie gedoen kan word ten koste van ekonomiese stabiliteit en voedselsekuriteit, individuele eiendomsreg en die geleentheid vir ouers om iets aan hul kindersna te laat nie.
Die EFF se idee van grondhervorming is onwerkbaar, daar is geen manier dat die staat alles kan besit en individue die grond by die regering moet huur nie. Die ANC beweeg al hoe nader aan die EFF en dis nie duidelik wat hulle posisie is nie. Die feit bly staan dat grondhervorming onder die ANC die afgelope 20+ jaar 'n mislukkig was.
In die Wes-Kaap het die DA 'n bewese rekord van suksesvolle grondhervorming, inteendeel, tans is 62% van grondhervormingprojekte in die Wes-Kaap suksesvol vergeleke die meer as 90% wat onsuksesvol is waar die ANC regeer.
Kyk 'n video hieronder.
Jaco Londt, die nuwe, jong DA-politieke leier vir die Mosselbaai-kiesafdeling.
Die debat gaan nie net oor landbougrond nie, dit gaan ook oor eiendomme wat individue kan besit, kan gebruik as sekuriteit en op kan voortbou. In DA-beheerde rade was daar die afgelope nege jaar meer as 91 000 titelaktes oorhandig. Dit is iets om op trots te wees, maar ook iets waarop daar uitgebrei moet word.
Om balans te kry in die gesprek is nie maklik nie, maar dit is 'n absolute moet.
Ons moet eerlik met onsself en mekaar wees oor die seer geskiedenis van ons land, die erns dat regstelling moet plaasvind en die noodsaaklikheid dat dit gedoen moet word op 'n manier waar ons nader aan mekaar beweeg as mede landsburgers eerder as verder.
Die DA word toenemend daarvan beskuldig dat die party apaties staan teenoor die vlaag plaasaanvalle en –moorde?
Die vlakke van misdaad, veral die geweldadige aard daarvan, is onaanvaarbaar en is een van die grootste krisisse tesame met werkloosheid wat ons as 'n land moet aanspreek. Suid-Afrikaners word daagliks gekonfronteer met die euwel wat oorwin moét word.
Die veiligheid in landelike gebiede is rede tot kommer. Sedert die ontbinding van die kommandostelsel het die DA deurgaans druk toegepas vir die instelling van gespesialiseerde landelike veiligheidseenhede. Dis unieke uitdagings en gevare wat aangespreek en voorkom moet word deur opgeleide individue.
Geweldsmisdade affekteer elke landsburger. Die reusetekort aan polisiëring, veral in die Wes-Kaap is 'n kwessie wat deurgaans gedryf word deur die DA. Onlangs is daar weer aangekondig dat die SAP-lede se getalle gesny gaan word met ongeveer 3 000, genadiglik nie in die Wes-Kaap nie, ons glo dit is weens ons volgehoue druk.
Dikwels is daar min of geen nagevolge vir oortreders nie. Die regsproses neem té lank, indien dit enigsins sover kom, kry oortreders 'n effektiewe raps oor die vingers wat die risiko van misdaad dikwels die moeite werd maak.
Hoe ver is die DA bereid om die EFF ter wille te wees vir die beheer oor die metro's?
Koalisiepolitiek is vloeibaar en ongelooflik moeilik om te bestuur. Lande waar koalisies aan die orde van die dag is, sukkel, tog is die DA relatief suksesvol om koalisies te bestuur in ons nuwe demokrasie met soveel polarisering en uiteenlopende sieninge is. Een van die redes is dat daar sekere kernwaardes is waarop 'n mens net nie bes gee nie, selfs al beteken dit 'n tydperk in die opposisie geledere.
Die onderhandlinge met die EFF was op 'n nasionale vlak gevoer met een van die deurslaggewende redes waarom die EFF met die DA saamwerk juis omdat die DA beter bevoeg is om dienste te lewer en skoon regering te bevorder.
Die DA bly egter steeds getrou aan sy waardes, die onlangse mosie van wantroue in Nelson Mandelabaai Metro, waar probeer is om van Athol Trollip ontslae te raak weens velkleur, was die party dit eens dat ons eerder beheer oor 'n raad of twee sal verloor as om in te gee voor die blatante rassisme wat gedryf was.
Dieselfde beginsels en waardes sal ons moet beskerm namate die party groei en meer geleenthede kry om koalisies te vorm. Die DA en Suid-Afrika kan dit nie bekostig om toegewings te maak vir korttermyngewin ten koste van 'n langtermyndoelwit van 'n nuwe Nasionale regering wat staan vir 'n nie-rassige samelewing nie.