Breaking News Update
MOSSELBAAI NUUS- Adjudant-offisier Suretha van Zyl, ondersoekbeampte in die saak van 'n onderwyser van Laerskool Park, wat verskeie seksuele aanklagte in die gesig staar, het Maandag aan die hof gesê sy is bekommerd oor die beskuldigde se veiligheid, sou hy op borgtog vrygelaat word.
Van Zyl het in die borgaansoek van die 42-jarige man in die Mosselbaai-landdroshof getuig.
Die beweerde dade het tussen 2019 en 2020 by verskeie plekke op Mosselbaai plaasgevind. Hoewel daar aanvanklik slegs melding gemaak is van twee slagoffers, het die hof Maandag gehoor dat daar ook 'n derde klaagster bygekom het.
Die slagoffers was almal glo in die onderwyser se graad 7-registerklas. Die hof het gehoor dat 'n seksuele verhouding met spesifiek een van slagoffer ná bewering begin is toe sy in graad 8 op hoërskool was.
Anonieme oproep
Van Zyl is ook uitgevra oor 'n anonieme oproep, wat sy ontvang het. "Die uitlating wat gemaak is, is dat die beskuldigde nie vir homself moet bang wees nie, maar vir die mense daar buite."
Die verdediging het hulself ten sterkste hieroor uitgespreek en Van Zyl gevra of dit nie veiliger sou wees om die persoon wat so 'n oproep en dreigemente teenoor hul kliënt maak, in hegtenis te neem nie.
Van Zyl het gesê dit is net iets wat sy voel sy vir die hof moet sê.
Die verdediging het teruggekap en gevra hoekom daar nie 'n beëdigde verklaring van die persoon wat gebel het, gekry is nie.
"So, as iets met my kliënt gebeur, is daar dus geen rekord hiervan nie. 'n Persoon is onskuldig totdat hy/sy skuldig bevind word. Enige dreigement, wat teenoor my kliënt gemaak word, moet opgevolg word."
Foto's
Van Zyl het reeds meer as 16 500 foto’s op die beskuldigde se selfoon nagegaan.
Daar is egter in totaal meer as 77 000 foto’s op dié foon.
Sy werk ook steeds deur WhatsApp-boodskappe en audio-boodskappe wat op die foon gestoor was.
By ‘n vorige hofsitting het Van Zyl getuig dat sy reeds meer as 500 foto’s van manlike geslagsorgane op die beskuldigde se selfoon gevind het.
Omdat hy van ‘n skedule 6 misdryf aangekla word, moet die verdediging buitengewone omstandighede bewys hoekom hy vir die tydperk van die verhoor op borgtog vrygelaat word.
Die verdediging sê onder meer dat die saak lank sal neem om af te handel as gevolg van 'n vol hofrol, dat die beskuldigde tyd met sy familie wil spandeer en dat die dade reeds maande gelede plaasgevind het en dat hy laas in Desember 2021 in kontak met een van die slagoffers was.
Van Zyl het aan die hof gesê dit behoort haar nog minstens twee maande te neem om deur al die bewysstukke te werk.
Verhouding
Die verdediging het gister aan die hof te kenne gegee dat die beskuldigde met een van die slagoffers in ‘n verhouding was en dat die seksdade dus volgens die verdediging met toestemming plaasgevind het.
Die verdediging het aangevoer dat die aanklagte van verkragting dus eintlik neerkom op statutêre verkragting. Tydens kruisondervragting het Van Zyl egter gesê daar is 'n chronologie wat strek oor 'n paar jaar en dat 'n kliniese forensiese sielkundige oor die proses van seksuele aanvoring (grooming) sal getuig.
Een van die slagoffers se selfoon, wat vermoedelik oor korrespondensie tussen haar en die beskuldigde beskik, maar wat sy probeer vernietig het voordat die beweerde dade op die lappe gekom het omdat sy glo skaam gekry het, is ook in die polisie se besit. Die foon is intussen weggestuur na Homeland Security Investigations by die Amerikaanse Ambassade in Pretoria om die inhoud te analiseer.
“Die data van die selfoon is dalk al teen dié week beskikbaar en sal dan aan my gestuur word,” het Van Zyl getuig.
Die departement van onderwyser het ‘n ondersoek na die voorval van stapel gestuur. Huidiglik verdien die verdagte steeds ‘n salaris.
Hy word in die George-gevangenis saam met minstens 30 ander verhoorafwagtendes aangehou.
Woordvoerder van die departement, Bronagh Hammond, het aan die Mossel Bay Advertiser gesê die ondersoek is 'n proses. "Die departement moet eers 'n dissiplinêre verhoor hou en 'n bevinding bepaal. "Ons werk saam met die nasionale vervolgingsgesag met betrekking tot ons eie ondersoek."
Vrae
Die landdros het aan Van Zyl gevra of die beskuldigde se vrou weet wat die aanklagte teen hom behels. "Ek het haar subtiel ingelig. My bevelvoerder het ook met haar gepraat," het Van Zyl geantwoord.
Die hof wou ook weet of sy vrou 'n aanduiding gegee het of sy aan die huwelik wil werk.
Die saak is uitgestel tot 11 Desember wanneer uitspraak in die borgaansoek gelewer sal word.
Vorige artikels:
- "Staat gooi balle in die lig" - verdediging in onderwyser saak
- Staat soek onderwyser se 'ander' selfoon
- Onderwyser in hof: gruwel-legkaart besig om te ontvou
- Onderwyser voer onder meer gesondheidsredes aan vir borgaansoek
- Slegs media mag onderwyser se borgaansoek bywoon
- Landdros siek, onderwyser se borgaansoek weer uitgestel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’