Update
MOSSELBAAI NUUS - Die staat werk tans deur meer as 77 000 foto’s wat op ‘n selfoon van die 43-jarige onderwyser van Laerskool Park gevind is en waarvan sover 400 foto's ná bewering foto’s van manlike geslagsorgane is.
Op ‘n vraag van die staat oor of dié foto’s die verdagte se geslagdeel is, het hy aangedui dat hy nie gaan kommentaar lewer nie.
Die staat is nog in die proses om deur die res van die duisende foto's te werk.
Dit het aan die lig gekom tydens ‘n hangende borgaansoek van die verdagte, wat vandag weer in die Mosselbaai-landdroshof verskyn het op 19 aanklagte wat insluit verkragting, seksuele aanranding, seksuele aanvoring en die blootstelling van kinders aan pornografie en die gebruik van ‘n kind om kinderpornografie aan te skaf.
Die verdagte het dit aan die hof gestel dat borgtog aan hom toegestaan moet word omdat hy na bewering ‘n verskeidenheid gesondheidsprobleme het, en om tyd met sy gesin te spandeer.
Hy is op 22 September by Laerskool Park in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.
Die staat bevraagteken egter die verdagte se bewering dat hy ‘n hartkondisie het.
Advokaat Gerda Marx het ook die staat se bekommernis, dat die verdagte dalk selfdood sal pleeg indien hy op borgtog vrygelaat word, aan die hof gestel. “Ek vrees dat indien jy borgtog kry, jy dalk selfdood sal pleeg en die slagoffers nooit geregtigheid sal kry nie.”
Die verdagte het gesê hy sal nie selfdood pleeg nie omdat dit ‘n sonde is.
Slagoffers glo onder verdagte se invloed
Eksplisiete inligting oor die beweerde voorvalle is tydens die borgaansoek aan die hof voorgelê. Die slagoffers was leerders in die onderwyser se registerklas.
Die beweerde dade het tussen 2019 en 2020 by verskeie plekke op Mosselbaai plaasgevind.
Die staat het Woensdag ‘n prentjie geskets van die verdagte wat die slagoffers na bewering teen mekaar probeer afspeel het en dat hulle op ‘n diep vlak onder sy invloed verkeer het.
Marx het dit aan die verdagte gestel dat een van die slagoffers maande se dreigemente deur hom moes verduur en dat hy haar na bewering probeer beheer het.
Hy het ook glo tydens ‘n geleentheid op 'n Vrydagaand by een van die klaers se huise opgedaag en na bewering aggresief was, glo omdat sy hom saam met ‘n ander slagoffer gesien het.
“Haar pa moes jou wegjaag en jy het hulle teen mekaar afgespeel.” Die verdagte wou nie op hierdie stelling kommentaar lewer nie.
“Jy het kondome op sekere geleenthede gebruik en tydens ander geleenthede moes sy die oggend-na-pil gebruik of swangerskap toetse kry. Dit is waaraan ‘n 13/14-jarige kind blootgestel is.”
Die staat het dit aan die verdagte gestel dat een van die slagoffers in ‘n psigiatriese hospitaal opgeneem is oor wat hy aan haar sielkundig gedoen het.”
Die verdagte het gesê dat hy bewus daarvan was dat een van die slagoffers aan depressie gely het.
Hy het erken dat hy en een van die slagoffers glo in 2021 saam besluit het om die verhouding te beeïndig.
Marx het gesê die staat soek die verdagte se vorige selfoon omdat hy intussen na 'n nuwe foon opgegradeer het. “Indien jy borgtog kry sal die bewysstukke waarskynlik vernietig word."
Die verdagte kon nie sê waar presies sy vorige selfoon was nie.
Geskenke
Die slagoffers het volgens die staat geskenke wat hy aan hulle gegee het, onder meer hangertjies, aan hom teruggegee.
Marx het ook ‘n foto aan die hof gewys van ‘n meisie wie se gesig nie herkenbaar is nie. Die foto is glo op die verdagte se selfoon gevind.
“Ons wil hê jy moet ons help en sê wie dit is en ons bystaan met die identiteit en of dit ‘n kind op die foto is en of sy ouer as 18 is. Die digitale konsultant sê die foto is nie ‘n ‘selfie’ nie en is nie van die internet afgetrek nie. Het jy die foto geneem?”
Die verdagte het hierop gesê: “Ek kan nie antwoord nie.”
Marx het vir hom gevra wat die buitengewone omstandighede is waarom die hof borgtog aan hom moet toestaan, waarop die verdagte geantwoord het: “Ek het ‘n afspraak wat ek wil nakom (vir sy beweerde hartkondisie). Hy het aan die hof gesê hy is bekommerd oor sy gesondheid.
Sy het dit aan hom gestel dat hy ‘n gevaar vir die slagoffers is, onder meer oor die wyse waarop hy hulle na bewering "gegroom" het en dat hy weet waar hulle woon en skoolgaan. Marx het dit aan hom gestel dat die slagoffers nie uit hulle huise sal wil kom indien hy borgtog kry nie.
Hy het gesê hy is nie ‘n gevaar vir enigiemand nie.
Die saak is uitgestel tot 15 November omdat die verdediging mediese verslae wil aanvra. Die verdagte bly in aanhouding.
Vorige artikels:
- Onderwyser voer onder meer gesondheidsredes aan vir borgaansoek
- Slegs media mag onderwyser se borgaansoek bywoon
- Landdros siek, onderwyser se borgaansoek weer uitgestel
- Onderwyser vanoggend in hof
- Onderwyser se borgaansoek uitgestel
- Onderwys departement loods ondersoek na onderwyser se inhegtenisname
- Onderwyser bly in aanhouding tot borgaansoek
- Onnie vas vir beweerde verkragting
- Laerskool onderwyser vandag in hof
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’