Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Klein soos sy is, dra Ruth Grace Louw haar naam met waardigheid.
Toe dié piepklein patroon op 23 Oktober 12 weke te vroeg gebore is, het sy maar net oor die 700g geweeg.
"Dis maar net effe meer as 'n blikkie baked beans," noem suster Priscilla van Niekerk, operasionele bestuurder, Wes-Kaap departement van gesondheid.
Vandeesweek, toe Ruth haar teikengewig van 2kg bereik is sy en haar ma, Robyn onder toejuiging van die kraamsaalpersoneel ontslaan.
Maar om Ruth by hierdie mylpaal te kry, het haar vier keer by die dood laat omdraai.
Fotogalery: 'Miracle baba' bereik mylpaal
Kyk 'n video hieronder:
Sterk vrou
"Haar naam is Ruth, soos die sterk vrou uit die Bybel en die Grace is deur haar negejarige boetie, Rowan gekies," vertel Robyn. Sy is in September 2020 vir onder meer pre-eklampsie opgeneem. Toe die sorgsame personeel op Mosselbaai niks meer vir haar kon doen nie, is sy oorgeplaas George toe, waar Ruth met 'n noodkeisersnit gebore is.
Sy het haar dogtertjie net vlugtig gesien na die geboorte en eers die volgende dag in die intensiewe sorgeenheid waarlik tot die besef gekom hoe klein haar baba is.
"Ek het gevoel dis nie my kind nie. Sy was so groot soos my hand. Die verskil tussen die sien in die teater en toe met al die pype was verskriklik. Ek moes myself gaan kalmeer."
Vir 'n lang tyd kon Robyn nie haar baba optel nie. Die verpleegsters het haar aangemoedig om uit te reik en met haar babatjie te praat. "Sy was in 'n Jiffy-sakkie om haar warm te hou. Hulle het die sakkie oopgemaak dat ek aan haar handjie kon vat. Die vingertjies was so nog half aanmekaar."
Robyn moes vrede maak met die feit dat haar baba 'n mikro-premie is. "Ek het nie eens geweet daar bestaan so iets nie," sy lag tussen die trane deur.
Struikelblokke
Ruth het ten spyte van haar grootte, verbete baklei om te bly lewe. Sy het twee keer sepsis gekry en het elke keer goed op haar medikasie reageer. Nog terugslae het gevolg toe sy geresussiteer moes word.
Die tweede keer toe haar hartjie gaan staan, het dit wonderbaarlik vanself weer begin klop. "Dit was op een van die ICU-verpleegsters se verjaarsdag. Sy het op Ruth afgepyl en gesê 'Kom by Ruth, jy gaan nie vandag iets oorkom nie, jou ma is 'n gelowige vrou'," Robyn lag en vee tegelyk trane af.
Robyn het 'n moeilike pad gestap. Sy kon geen besoekers sien nie. "Ek was alleen, maar God was by my."
Die reis tot hier was 'n toets vir haar geloof. "Aan die begin het ek gevoel my geloof het gebreek. Toe besef ek, ek is in 'n oorlog - ek saam met God." Haar ouers se woorde het die deurslag gegee. "My ouers het gesê ek moet God vrá om haar vir my te gee. Ek moes vir Hom sê ek wíl haar hê, dan sal Hy haar vir my gee. Maar in elke faset waarvoor ek gevra het, is ek getoets. As ek nou na haar kyk, sien ek net één ding en dis geloof."
"Sy is voorwaar 'n miracle baba," beaam suster Priscilla, haar hand vertroostend op Robyn se skouer. Van die personeel by beide Mosselbaai en George provinsiale hospitale, praat Robyn net met die hoogste lof.
Met haar lang hospitalisasie, het sy haar werk verloor, maar dit pla Robyn nie. Vir nou, is Ruth haar prioriteit. Met die winter voor hande, is dit 'n slegte tyd vir 'n vroeggebore baba. Sy wil ook tyd spandeer met haar seun, 'n leerder aan Milkwood Primêre Skool.
"Ek sal later weer my planne hervat. Vir nou is dit eers net hulle."
* Gister, Donderdag 4 Februarie het Ruth 2,010kg geweeg.
'n Kangaroo-oomblik tussen ma en baba.
Langs mamma se selfoon. Ruth het net oor die 700g by geboorte geweeg.
Vorige artikel: Piepklein baba se groot dag kom
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'