Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - 'n Dertigjarige man, Shadreck Mhetu wat in verband met die moord op 'n sakeman van Hartenbos, Desmond Share in Augustus in hegtenis geneem is, sal na verwagting more, 20 Desember, in die Mosselbaai-landdroshof om borgtog aansoek doen.
Share, 'n plaaslike sakeman, se liggaam is op Saterdag, 5 Augustus, tussen bosse naby Albertinia gekry, nadat hy vir dae lank vermis was.
Sy bakkie is gesteel en is etlike dae na sy moord in Ficksburg naby die grens van Lesotho gevind.
Die oorsaak van Share se dood is nog nie aan die media bekend gemaak nie, maar hy het na wat verneem word veelvuldige beserings opgedoen. Geld is ook uit sy bankrekening ontrek.
Shadreck Mhetu is kort na die voorval in hegtenis geneem in Du Noon in Kaapstad en sal na verwagting more in die Mosselbaai-landdroshof verskyn om vir borgtog aansoek te doen.
Gemeenskapslede sal na verwagting by die hof bymekaar kom om te vra dat borgtog geweier moet word.
Mhetu staar aanklagte van moord, ontvoering en kaping in die gesig.
Twee mans wat destyds naby die grens in Share se bakkie gevind is, is in hegtenis geneem maar word nie met die moord verbind nie.
Nóg 'n lasbrief is op 12 Desember deur die Mosselbaai-landdroshof uitgereik vir die inhegtenisname van Danzel Talent Alkulethi, ook bekend as Akwiriano, wat glo by die verdwyning van Hartenbos inwoner Desmond Share (53) betrokke was.
Alkulethi is oorspronklik van Zimbabwe.
Danzel Talent Alkulethi, ook bekend as Akwiriano word in verband met Share se moord gesoek.
Nog twee verdagtes, wat met die moord op Share verbind kan word, Shown Gondo (31) en sy broer, Akim Gondo (25), ook Zimbabwiers, is steeds op vrye voet.
Akim Gondo
Shown Gondo
Enigeen met inligting kan die ondersoekbeampte in die saak ao Arlene Stokes kontak by 044 606 2213 of 061 317 2239.
Vorige artikels:
- Desmond Share se bakkie gevind
- Inwoners teken petisie teen Share-verdagte se borg
- 1 in hof vir moord op Share
- Verdagte in hof vir moord op Desmond Share
- Desmond Share se dood bevestig
- Vermiste man se bril gevind
- Vermiste man se voertuig op kamera gesien
- Hartenbos-sakeman word vermis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’