Update
MOSSELBAAI NUUS - Die polisie het bevestig dat Hartenbos inwoner, Desmond Share (52) se bakkie verlede week in Ficksburg naby die grens van Lesotho gevind is.
Dit volg nadat Share se liggaam op Saterdag, 5 Augustus, tussen bosse naby Albertinia gekry is, nadat hy vir etlike dae vermis was.
'n Dertigjarige man, Shadreck Mhetu is in hegtenis geneem in Du Noon in Kaapstad en sou die afgelope week in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, ontvoering en kaping.
Inwoners van Mosselbaai het 'n petisie geteken teen borgtog vir die verdagte en die saak is op Dinsdag, 15 Augustus uitgestel na 22 Augustus vir 'n formele borgaansoek.
Intussen het die polisie die identiteite van nog twee verdagtes, wat met die moord op Share verbind kan word, bekend gemaak. Dit is Shown Gondo (31) en sy broer, Akim Gondo (25).
'n Lasbrief vir die Gondo's se inhegtenisname is intussen deur die Mosselbaai-landdroshof uitgereik.
Volgens polisiewoordvoerder, sers Chris Spies, is twee verdagtes, wat in Share se bakkie gevind is, in hegtenis geneem. Die twee verdagtes het gister in 'n hof in die Vrystaat verskyn vir 'n formele borgaansoek. Volgens Spies word hulle nie tans met die moord op Share verbind nie.
Enigeen met inligting oor waar die Gondo's hulself kan bevind, word versoek om die ondersoekbeampte in die saak, ao Arleen Stokes, te kontak by 044 606 2213 of 061 317 2239.
Vorige artikels:
- Inwoners teken petisie teen Share-verdagte se borg
- 1 in hof vir moord op Share
- Verdagte in hof vir moord op Desmond Share
- Desmond Share se dood bevestig
- Vermiste man se bril gevind
- Vermiste man se voertuig op kamera gesien
- Hartenbos-sakeman word vermis
Shown Gondo
Akim Gondo
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’